Nick Delport mik vir die gat terwyl KC de Jager staan en toekyk.


Die Vredenburg-gholfklub se klubhuis het die afgelope Saterdag (24 Augustus) weer soos van ouds gegons, met die klank van gholfmaats wat lekker lag vir mekaar se grappies en staaltjies oor dié dag se spel.

Die eerste “groot” gholfdag ná ses maande van spook om die bane weer lowergroen te kry, is goed ondersteun met 96 deelnemers, wat oud-klubpresidente ingesluit het.

Die enkele setperke wat nog nie heeltemal toegegroei is nie, het geensins die gholfspelers se entoesiasme gedemp nie.

Weslander het in Februarie vanjaar begin berig oor die bestuur wat ná jare van vandalisme en diefstal naby opgee was (“Vandale stroop gholfbaan: ‘Dis om van te huil,’ sê bestuur”, 15 Februarie 2024).

Die Saldanhabaai-munisipaliteit het hierna behoorlik hande gevat met die bestuur en die situasie met behulp van ekstra hulpbronne en mannekrag onder leiding van Kosie Roux, ’n ou bekende by die munisipaliteit se parke-en-tuine-afdeling, omgekeer.

Die gholfklub, wat vanjaar 60 jaar oud is, is ook deel van die munisipale sportliggaam gemaak, waarvan die krieket- en rugbyklub ook deel is.

Pottie Potgieter, dekades al komiteelid en ’n voormalige klubkaptein, president en klubbestuurder, beskou dit as ’n riem onder die hart dat soveel mense hul gholfdag kom ondersteun het.

George Coomer het Roux tydens die prysuitdeling namens die bestuur spesiaal vir sy hulp bedank om die setperke weer te besaai en met gespesialiseerde toerusting aan die groei te kry.

Die gholfbaan is einde verlede jaar beskadig nadat diewe die duur pomp, pompstelsel en filters uit die pompkamer gesteel en die baan sonder besproeiing gelaat het. Hulle het selfs die klep wat keer dat die rioolwater na die aangrensende rioolwerke terugspoel, uitgebreek en weggedra.

Die gholfbaan word natgelei met gesuiwerde rioolwater van die aangrensende munisipale rioolwerke, en as die water nie na die gholfbaan gepomp word nie, sal die rioolplaas se suiweringsaanleg oorstroom.

Verhoogde veiligheidsmaatreëls en vier nagwagte sien toe dat vandale nie weer die klubhuis en toiletgeriewe kom plunder nie.

Saterdagmiddae ná spel word oudergewoonte ’n prysuitdeling gehou, met die eerste prys gewoonlik ’n pak uitsoekvleis van Bekker-plaasprodukte. Op Woensdae speel die goue oues.

Nou word kliphard gedroom om weer eendag een van die toptien-gholfbane in die Wes-Kaap te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.