Die son het helder oor Piketberg geskyn toe Winkelshoek Bottelering en Piketberg Powertools die afgelope Saterdag (18 Oktober) hul jaarlikse gholfdag aangebied het.
Die dag was ten bate van Groenvlei Primêr en Carl Schreve Primêr.
Die dag was propvol lag, lekker gholf en goeie geselskap, met spelers wat van heinde en verre gekom het om vir ‘n goeie saak te speel. Soos altyd was groot pryse op die spel en nog groter harte wat gewys het hoe sterk die gemeenskap saamstaan wanneer dit ‘n saak vir sy kinders is.
Helga-Lee Burger, skoolhoof van Carl Schreve Primêr, sê sy is dankbaar vir almal wat hul tyd, geld en energie ingesit het. “Die opbrengs van die dag gaan ons help om ons skole aan die gang te hou en ons leerders die beste moontlike onderrig te bied.”
Beide skole is geen-skoolfonds-skole, wat beteken dat hulle staatmaak op die gemeenskap se ondersteuning.
Edwin Muller, die hoof van Groenvlei Primêr, sê dat hulle vir hul kinders groot droom – “maar dit vat ‘n gemeenskap om daardie drome te bou”.
Die organiseerders sê die gholfdag sal gewis weer op volgende jaar se kalender wees. “Met so baie glimlagte en goeie sportgees kon dit nie anders as ‘n sukses wees nie,” sê Jani de Villiers, een van die koördineerders.
“ ’n Groot dankie aan al die borge, spelers, potjiekosdeelnemers en vrywilligers – veral Winkelshoek Bottelering en Piketberg Powertools – wat gewys het hoe mooi ons saam aan die toekoms van plaaslike onderwys kan bou.”


