Mary-Anne de Bruin (25) is duidelik tevrede met haar uitdunronde.Foto’s: Alida Buckle


Benewens die groep vrywilligers wat op die strand met handdoeke en warm lafenis gewag het, het selfs twee dolfyne en ’n yslike rob kom meedoen aan die eerste Weskus-kompetisie vir aanpasbare brander­plankry (parasurfing) in Paternoster die afgelope naweek.

Die water en die wind was ysig, maar die breë glimlagte op die sestien deelnemers se gesigte as hulle ’n brander reg “vang” en ’n paar truuks kan uithaal, het mense se harte verwarm.

Volgens Albert Millard, voorsitter van en hoofafrigter by Extreme Abilities, wat dié byeenkoms die afgelope Saterdag (28 September) gereël het, was dit ’n proeflopie om moontlik die nasionale aanpasbare branderplankry-kompetisie in 2025 by Mosselbank in Paternoster te kan aanbied.

Parasurfers van Durban, Kaapstad en Johannesburg het ook kom deelneem.

Die Weskus Krewe, die plaaslike aanpasbarebranderplankryspan met fisieke en verstandelike gestremdhede en wat ook Saterdag deelgeneem het, sal die Weskus by die nasionale Parasurf-kampioenskap in 2025 verteenwoordig.

Extreme Abilities is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag wat aanpasbarebranderplankrysessies aanbied en saam met ander organisasies soos Harbour of Wellness van Saldanha werk om mense met gestremdhede te leer om branderplank te ry. Hulle organiseer sportbyeenkomste soos die naweek se kompetisie – veral vir minderbevoorregte mense wat met gestremdhede leef.

Hulle werk ook saam met Pelgrims Place, ’n dwelmrehabilitasiesentrum vir mans naby Paternoster.

Van die manne wat reeds ’n groot deel van hul kursus voltooi het, het Saterdag die gestremdes in die water gehelp. Vir hulle is dit ’n kosbare ervaring om net weer te kan teruggee ná die liefde en ondersteuning wat hulle gehelp het om weer op die been te kom.

Dries Millard (34), Albert se broer, wat die baanbreker van branderplankry vir fisiek gestremde mense genoem word, het Extreme Abilities in 2011 gestig.

Dries is in 2008, in sy matriekjaar, van die bors af ondertoe verlam toe hy in ’n motorongeluk in die Dutoitskloofpas by die Paarl was. Hy het by HTS Drostdy skoolgegaan en was ’n belowende jong rugbyspeler wat pas ’n gesogte rugbykontrak onderteken het.

Dries het sedert sy ongeluk al aan verskeie projekte deelgeneem om jongmense met gestremdhede moed in te praat. Hy het kort ná sy ongeluk reeds weer begin branderplank ry en het in 2011 aan die eerste jaarlikse Aanpasbare- branderplankry-kompetisie in Bloubergstrand, Kaapstad, en in 2015 as ’n Springbok aan die heel eerste branderplankry-wêreldkompetisie vir fisiek gestremde mense in Kalifornië, Amerika, deelgeneem. Hy het vyfde geëindig.

Albert, wat intussen die leisels by Extreme Abilities oorgeneem het, en Dries kan nie uitgepraat raak oor die enorme invloed wat die sport op gestremdes en hul families het nie.

Mary-Anne de Bruin (25) van Diazville en een van die Weskus Krewe se sterre het die naweek vyfde geëindig. Sy het Saterdag van oor tot oor geglimlag ná ’n goeie beurt. “Surfing is die hoogtepunt van my week; dit beteken vir my alles.”

Sy vertel dat hulle twee keer per week – een keer in Saldanhabaai by Dial Rock en een keer by Mosselbank – oefen. Dié kranige branderplankryer kon aanvanklik nie eens swem toe sy twee jaar gelede begin leer het nie.

Leroy Kuys, ook van Diazville, het Saterdag in die eindronde teen drie Springbok-branderplankryers meegeding en vierde geëindig. Douglas Hendrikz, Saterdag se wenner, en Raymond Masulela, wat tweede was, het Suid-Afrika verlede jaar in groen en goud by die wêreldkampioenskap verteenwoordig. Dries het die derde plek ingeneem.

Instansies wat Saterdag die pragpryse help moontlik maak het, is Reef Wetsuits, Vudu Surf, Hemporium, Saldanhabaai-munisipaliteit (Saldanhabaai-vakansieoord), Stay in Paternoster, Cartol, Weskus Toilet Hire, Smit Steenwerke, Atlantic Hire Centre, Excelsior Pies, Zula-gastehuis en OK Paternoster Express.

Extreme Abilities maak staat op geldinsamelings, borgskappe en samewerking tussen ander gestremdheid-georiënteerde organisasies.

As jy kan bydra tot hul werk of gebruikte branderplanke of duiktoerusting kan skenk, besoek hul Facebook-blad of webtuiste vir meer inligting of bel Albert by 084 294 6515.

Daar is deesdae aanpasbarebrander­plank­ryklubs landwyd en daar is ook planne om moontlik die sport in die Paralimpiese Spele vir die 2028-Spele in te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.