Die verlate kerksaal op die hoek van Maclon-en Kootjieskloofstraat in Louwville is amptelik gesloop.
Inwoners het hul kommer gedeel oor die oogseer in die gemeenskap wat al vir ’n geruime tyd leeg gestaan het en gevandaliseer is.
Weslander het vroeër (“Ja vir sloop van kerksaal”, Weslander, Donderdag 25 Julie) oor die gebou berig.
Tereza Burger, ’n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het die sloping van die gebou bevestig. Burger het vroeër gesê die grond waarop die kerksaal geleë was, was deel van ’n goedgekeurde behuisingsontwikkeling.
“Die ingenieursdienste (water, riool, paaie ens.) is voltooi en die munisipaliteit is tans besig met die prosesse wat begunstigde bestuur (aansoek om subsidies) behels. Die tender vir die bou van die huise is tans in die verkrygingsfase en daar word beraam, sou daar geen vertragings ondervind word nie, dat bouwerk beplan word om binne drie tot vier maande te begin.”
Burger het ook vantevore gesê die munisipaliteit is van mening dat die gemeenskap ’n mate van verantwoordelikheid het om munisipale infrastraktuur te beskerm deur die oë en ore van die munisipaliteit te wees en enige vorm van misbruik of vandalisering van munisipale infrastruktuur is sy gebied aan te meld.