Sheila en Lenard Hall (links) kuier saam met Estelle en Louis Taljaard.


’n Atmosfeer van samesyn en geselligheid is weer by vanjaar se derde Skink Swartland-geleentheid ervaar.

Die geleentheid het Saterdag (13 April) by Laaiplek Hotel plaasgevind en is deur ongeveer 200 mense bygewoon.

Volgens Jolene Janse van Rensburg, die bestuurder van die Swartland-wyn-en-olyfroete, sou hulle uiteraard graag meer besoekers wou hê, “maar terselfdertyd wil ons graag hê dit moet ’n spesiale en intieme geleentheid bly. Die weer het mooi saamgespeel en die personeel van Laaiplek Hotel het hulself oortref met die voorbereidings vir die geleentheid.”

Gaste het heerlike seekosdisse geniet, asook wyne van Leeuwenkuil Family Vineyards, Swartland Wyn en Org de Rac, net om ’n paar te noem.

Die kos-en-wyn-pasmaataand wat Vrydag 12 April by Riviera Hotel plaasgevind het, was ook ’n sukses.

Volgens Janse van Rensburg was dit ’n wonderlike aand. “Rory Lambson, ’n plaaslike Swartland-sjef, het hom baie goed van sy taak gekwyt met die spyskaart, die voorbereiding van die disse en die paring van die wyne. Die Skink Swartland-geleentheid is ook danksy die ondersteuning van die Bester- en Engelbrecht-families moontlik gemaak.

“Dit is elke jaar ’n spesiale dag met ’n feestelike, gesellige atmosfeer, goeie musiek, wonderlike kos en natuurlik wêreldklas wyne. Vanjaar was Skink Swartland vir ons bittersoet, want Makkie Bester, wat onlangs in ’n motorongeluk oorlede is, was een van die groot dryfvere agter die geleentheid.”

Blackie Swarts, die wenner van twee Weslander-kaartjies, sê dit was heerlik om oor die water uit te kyk met die heerlike kos en gees.

“Die uitstalling was puik. Ek kan dit aanbeveel aan ander om dit te gaan geniet,” sê hy.

Janse van Rensburg sê omdat dit ’n kleiner geleentheid was, is besoekers die geleentheid gebied om met die wynmakers en persoonlikhede van die Swartland te gesels en hulle van nader te leer ken.

“Dit is vir ons belangrik dat mense elke keer wanneer hul Skink bywoon, meer leer van die Swartland-streek en hoe besonders die wyne uit ons omgewing is. Wyn is soveel meer as net alkohol in ’n bottel. Elke wyn het sy eie besonderse storie, wat ook bydra tot die bemarking van die streek as nie net ’n gehalte-wynproduksie-omgewing nie, maar ook as ’n naweek- en vakansiebestemming.”

Sy nooi graag almal uit om die proelokale in die Swartland te besoek en die Swartland se skoonheid en hartlikheid eerstehands te ervaar.

You need to be Logged In to leave a comment.