Ouers van St. Helenabaai is nou moeg gewag vir die bou van ‘n hoërskool vir die dorp.
‘n Vreedsame optog is Saterdag 15 Maart gehou in ‘n poging om hul stemme te laat hoor en ‘n griefskrif is aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) oorhandig.
Die griefskrif is deur Heather van Ster, die hoofdirekteur van die WKOD, ontvang.
Dit volg nadat ouers in Augustus 2024 na die Vredenburg-tak van die onderwysdepartement opgeruk en ‘n griefskrif oorhandig het in verband met die bou van ‘n nuwe hoërskool in St. Helenabaai. Ouers was later baie opgewonde toe die bou van die hoërskool in Oktober verlede jaar bekend gemaak is en die munisipale raad by ‘n raadsvergaderinging eenparig besluit het om die ontwikkelingskostes vir die beoogde hoërskool af te skryf, maar tot dusver is geen verdere vordering gemaak nie.
Volgens die raadslid Thyrone Williams sloer die versoek vir ‘n hoërskool al vir die afgelope 20 jaar.
“ ’n Hoërskool in die dorp is noodsaaklik – nie net vir Laingville nie, maar vir die hele St. Helenabaai. Sowat 14 busse ry daagliks uit St. Helenabaai na Vredenburg teen ‘n stewige R13,8 miljoen per jaar.
“Daarbenewens word ons kinders by hoërskole in Vredenburg gedreig en selfs geboelie.
“Ons sit met vier primêre skole in St. Helenabaai en nie een hoërskool nie.”
Williams sê die department het al sedert 2014 bevestig dat ‘n hoërskool wel in St. Helenabaai gebou gaan word, maar niks is al gedoen nie.
“My persoonlike mening is dat dit politiek is en dat ons kinders swaarkry in die proses. Ek sal graag wou sien dat hulle al met die hoërskool begin. Soos in die memorandum geskryf staan, voel die gemeenskap genoeg is genoeg en sê hulle sal tot aksie oorgaan sou daar nie gehoor gegee word aan die eise nie.”
‘n Inwoner, Laetitia Isaacs, meen die bou van ‘n hoërskool in die dorp is nie net belangrik vir die kinders nie, maar ook vir die gemoedsrus van plaaslike ouers.
Isaacs sê as ouers bekommer hulle hul elke dag oor die veiligheid van hul kinders en dat soveel dinge gepaard gaan met wat die skool vir die gemeenskap sal beteken.
“Die feit dat die proses sloer, ontstel my baie. Dit wys dat die belange van ons kinders in St. Helenabaai glad nie ter harte geneem word nie en glad nie ‘n belangrikheid [is] nie.”
Die WKOD het tot Vrydag 21 Maart om op die griefskrif te reageer.