Die huis in die Blouwaterbaai, Saldanha, waarin tweelingsussies nog Saterdagoggend 10 November met hul ouma en oupa gesels het, is absoluut geluidloos. Die leemte wat Alex en Zoë Arends (22) se heengaan op hul grootwordhuis laat, is tasbaar.
Ian en Marilyn Matroos, bekende inwoners, se harte is stukkend ná hul tweeling-kleinkinders deur ’n motorongeluk in die hoofstraat van Saldanha weggeruk is. Hulle het die tweeling – hul engelkinders – grootgemaak. Die tweeling was in die Laerskool Saldanha en die Hoërskool Vredenburg en het altyd uitgestaan vanweë die feit dat hulle ’n tweeling én nog mooi ook was. Skaars nadat die ongeluk omstreeks 20:30 Saterdagaand plaasgevind het, is video’s en foto’s daarvan wyd en syd op sosiale media gedeel – ontstellende foto’s.
Die tweeling is op die toneel dood en drie jongmense is in die ongeluk beseer. Gregan Savill veg steeds om sy lewe in die Groote Schuur-hospitaal, terwyl David Damon plaaslik vir sy beserings behandel is. Die beseerde Tamryn Jae van Wyk word steeds in die intensiewe eenheid van ‘n Kaapse hospitaal behandel.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, is die polisie besig met ’n lywige ondersoek na al die omstandighede en getuienis rakende die voorval. Die oorledenes se familie sal eers Vrydag ’n amptelike uitkenning kan doen.
Die bestuurder van die wit Volkswagen Polo het na bewering beheer verloor, waarop die motor teen ’n padteken gebots en teen ’n muur tot stilstand gekom het. Wat presies die omstandighede was wat tot die botsing gelei het, vorm nou deel van die saak van strafbare manslag wat die Saldanha-polisie ondersoek. Die polisie kyk ook na beeldmateriaal van die omliggende sakeondernemings om vas te stel wat gebeur het.
Zoë, die ma van ’n vierjarige seun, het by die Fidelity ADT-sekuriteitsmaatskappy in Saldanha gewerk en Alex, die eersgeborene van die tweeling, was ’n tweedejaarmodeontwerpstudent by die Cape Town College of Fashion Design.
Volgens hul ouma gaan dit nou nie meer net oor hulle as familie nie. Die Saldanha-gemeenskap rou saam met hulle.
’n Roudiens was op Donderdag 14 Novembe in die Community Outreach Church in Saldanha gehou en een word ook Donderdag (21 November) gehou. Die tweeling se begrafnis vind Sondag 24 November vanuit die Veeldoelige Sentrum in White City plaas.
. Die polisie vra dat enigiemand met werklike inligting, wat lig op die ondersoek kan werp, asseblief met konst. Aquile Philippus, die ondersoekbeampte, by 079 894 0082 in verbinding tree.