Panorama Primêr het ‘n geliefde onderwyseres, Amanda Barnard, verloor.

Amanda is die afgelope Donderdag (19 Junie) oorlede nadat vlak 4-melanoom vroeër by haar gediagnoseer is. Amanda was die afgelope sewe jaar ‘n onderwyseres by Panorama Primêr en het in die harte van baie ingekruip.

Haar man, Anthony Barnard, het aan Weslander vertel dat sy vrou ‘n passie vir kinders en onderwys gehad het. Sy het selfs naweke en vakansies hard gewerk om onderwys te bevorder en was altyd besig met vernuwende idees.

Hoewel sy siek was, was Amanda se liefde vir onderwys gróót, en net as ‘n voorbleeld, in haar laaste paar dae van lewe was sy besig met ‘n aktiewiteitsboek vir die kinders van Panorama Primêr.

“Ek gaan haar mis omdat sy ‘n ongelooflike vrou was, altyd reg om ons by te staan in siekte, en raad te gee oor probleme wat voorkom.

“Sy was ook altyd aktief in die huis met baie goed en altyd vroulik. Sy het liefde uitgestraal en was baie hardwerkend. Sy het baie belanggestel in alles waarmee haar twee seuns besig was.”

Volgens Hylton Langley, die hoof van Panorama Primêr, was Amanda meer as net ‘n opvoeder.

“Sy was ‘n toegewyde, deernisvolle en inspirerende teenwoordigheid in die lewe van haar leerders en kollegas. Haar warmte, vriendelikheid en toewyding aan haar werk het almal geraak wat die voorreg gehad het om haar te ken.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan haar familie, vriende en almal wat oor haar verlies treur. Hou asseblief hulle, sowel as die skoolgemeenskap, in jul gedagtes en gebede gedurende hierdie moeilike tyd. Mag haar siel in ewige vrede rus en in glorie opstaan.”

Anthony voeg by en beklemtoon dat Amanda ‘n sondelose mens en ‘n pragtige kind van die Here was.

“Die skool en die gemeenskap het ‘n juweel van die hoogste gehalte verloor. Sy het haar gr. R-onderwysdiploma in 2022 aan die Noord-Wes-universiteit op die ouderdom van 55 jaar verwerf. Dit was een van haar grootste prestasies.”

Langley sê sy sal gemis, maar nooit vergeet word nie.

Amanda laat haar man en twee kinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025