Groot opgewondenheid heers onder deelnemers aan die 2025-Visfabrieketoernooi wat op Vrydag 24 en Saterdag 25 Oktober in Velddrif sal plaasvind.
Die groot sportgeleentheid vind op die Smit-sportterrein plaas.
Rugby is een van die groot trekpleisters van die toernooi en in 1997 het die Boland-rugby-unie aan boord gekom en beheer oor die rugbydeel van die toernooi oorgeneem.
Volgens Kobus Vergotine, die organiseerder van die toernooi, het 14 rugbyspanne vanjaar ingeskryf. Dit sluit verlede jaar se wenners, Amawandle, in, asook Westpoint Processors, Elandsbaai en meer.
Vergotine sien uit na goeie mededinging vir die spelers in alle sportsoorte wat deelneem.
Tydens die toernooi, meen Vergotine, vind ontwikkeling altyd plaas en word ongeslypte diamante ook dikwels raakgesien.
“Ons sien uit na ‘n fantastiese atmosfeer en eenheid wat in die onderskeie gemeenskappe geskep word – veral onder die deelnemende fabrieke. Dit gaan gewis ‘n groot een wees hierdie jaar en ek wens al die deelnemers alle sterkte toe.”


