Geen plekke op podium by SA’s

Die Weskus se hoërskoolatlete kon ongelukkig nie dieselfde groot hoogtes as hul eweknieë op laerskool bereik nie.


Die Weskus se hoërskoolatlete kon ongelukkig nie dieselfde groot hoogtes as hul eweknieë op laerskool bereik nie.

Die nasionale atletiek-kampioenskap vir hoërskole het van 1 tot 2 April in Durban plaasgevind.

Met die laerskoolatlete wat twee goue medaljes huis toe gebring het, was die hoërskole se beste prestasie ’n vierde plek, steeds ’n heel skaflike prestasie vir Mika Nieuwoudt van Hoërskool Hopefield (HSH) in die 10 km-stap vir o.19-meisies.

Nieuwoudt se skoolmaat, Antoinette de Beer, is in dieselfde wedloop ongelukkig gediskwalifiseer.

HSH se derde SA-atleet, Anja Prins, het in die o.15-meisiehamergooi ’n treurmare beleef.

Eers was die hamergooi-fasiliteite nie op standaard nie, waarna ’n tweede plek gevind is om die item af te handel.

Dié tweede plek was ongelukkig óók nie op standaard nie, en nie een van Prins se drie kwalifiserende gooie het getel nie.

Wehan Fourie, skoolhoof van HSH, sê die omstandighede rondom Prins se deelname was teleurstellend, veral omdat die skool haar as ’n moontlike nasionale kampioen beskou.

Will Vraagom van Hoërskool Vredenburg se tyd van 52,07 sekondes in ’n uitdun vir die o.15-seuns se 400 m was goed genoeg vir ’n derde plek in sy uitdun, maar nie goed genoeg vir ’n plek in die finaal nie.

Ethan Neo, Vraagom se skoolmaat, het in die o.15-seunshoogspring ’n gesamentlike 15de plek met ’n hoogte van 1,64 m behaal.

You need to be Logged In to leave a comment.