Die eens historiese Geelbek- gebou in die Weskus-Nasionale Park is erg verwaarloos.
Dié nasionale monument dateer uit die tydperk tussen 1786 en 1920. Die eens besige webwerf vir Geelbek is ook in 2015 laas bygewerk.
Op Jan Marx se foto’s hiernaas kan gesien word dat die eens glorieryke restaurant, waar glansryke troues en gesellighede gehou is, nou verwaarloos is.
“Die hoofgebou en die omliggende strukture, sowel as die terrein, is vervalle,” skryf hy.
Marx sê benewens die kulturele en historiese status is die hoofgebou en die aangrensende oop gebied as ‘n huweliksbevestigingsplek gebruik en is dit op ‘n tyd as van die beste in die land beskou.
Met sy besoek aan die terrein was selfs die geboue, wat tans deur SANParke-personeel ge-
bruik word, in ‘n swak toestand.
“Geelbek was die enigste fasiliteit in die Weskus Nasionale Park waar besoekers kon stop vir ‘n koppie koffie en ‘n happie om te eet.
“Tans word hierdie diens verskaf deur ‘n entrepreneur met ‘n melk-en-lekkerny-karretjie,” sê Marx.
Weslander het verskeie vrae aan SANParke gestuur, onder meer oor waarom die eens winsgewende onderneming toegelaat is om te verval; ook waarom dit nie betyds op tender uitgesit is sodat private instansies dit beter kon bestuur nie.
Charles Phahlane, SANParke se senior kommunikasie-
bestuurder vir die Kaapse streek, meen die hele perseel om die Geelbek-gebou en strukture benodig opknapping.
Volgens Phahlane wil SANParke die hele area opknap en daarom is ‘n omgewingsimpakstudie (EIA) en ‘n erfenisimpakstudie (HIB) onlangs uitgevoer.
“Hierdie EIA en HIB is onlangs goedgekeur, wat SANParke nou toelaat om vir tenders vir die vereiste konstruksie te adverteer om die fasiliteit op te knap,” sê Phahlane.
Die opknapping sal onder meer glo ‘n onthaallokaal, verbeterde ablusies en ‘n aktiwiteitsentrum insluit.
Phahlane sê die doel is om uiteindelik die hele perseel as een entiteit te bestuur, insluitend die opgeknapte gedeeltes en al die verblyf-eenhede op die terrein.
Hy meen die opknapping gaan twee tot drie maande neem om te voltooi, “realisties gesproke”.
Hy het ook beklemtoon dat die twee kothuise op die terrein en die omgewingsopvoedingsentrum steeds beskikbaar is vir besprekings.


