‘Gee die see aan ons terug’

Weskusvissers reken die enigste manier om seebronne te beskerm is om dit in die hande van die plaaslike gemeenskappe terug te sit. Inwoners van die Weskus het Vrydag 3 Februarie in […]


Weskusvissers reken die enigste manier om seebronne te beskerm is om dit in die hande van die plaaslike gemeenskappe terug te sit. 
Inwoners van die Weskus het Vrydag 3 Februarie in Saldanha hul kans gekry om te sê hoe perlemoenstropery hul raak. Dit was tydens die eerste van drie openbare verhore gehou deur die Wes-Kaapse staande parlementêre komitee vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou.

Lyn-visserman, Gerald Zacharias van Saldanha meen stropery is uit desperaatheid.

“Die lewe wat ek as ’n visser ly is donker. Dit lyk vir my dit sal my meer baat om ’n krimineel te wees – ek sal ’n beter lewe hê. Ek wat net probeer om ’n (wettige) bestaan te maak, het niks!” het lyn-visserman Gerald Zacharias van Saldanha gesê.  
Hoewel die verhore spesifiek op perlemoenstropery gerig is, het Weskus-vissers ook die impak van kreef- en visstropery uitgelig.
’n Emosionele Zacharias het verduidelik baie bestaansvissers draai na stropery uit desperaatheid om vir hul gesinne te sorg, nie gulsigheid nie. 
Volgens Beverley Schäfer, voorsitter van die komitee, kom die openbare verhore ná klagtes vanuit vissergemeenskappe. 
“Waar ma’s eens vis in hul vrieskaste gebêre het, word onwettige perlemoen nou gestoor. Die vissers wat stroop word nie eers met geld betaal nie, maar dwelms,” sê sy. 
Schäfer meen dit is “hartverskeurend” om te sien hoe vissersgemeenskappe steeds deur die regering gefaal word. 
Die stroop van kreef was veral ’n teer punt by die vergadering. Dit kom na ’n beroep deur omgewingsbewaringsgroepe wat vra dat ’n verbod op kommersiële kreefvangste so gou moontlik ingestel word. 
Volgens plaaslike vissers is perlemoen ook volop in Saldanhabaai se waters. “Vissers kom met hul skibote en haal die perlemoen uit. Sommige kom van Gansbaai met hul permitte en andere doen dit onwettig, maar hulle almal doen dit om te oorleef,” sê Basil Constant, ook ’n lynvisser van Saldanha.
Daar is voorgestel die regering help om alternatiewe werksgeleenthede vir die vissers te skep.
Gerrit Matthyse, munisipale bestuurder van die Cederberg-munisipaliteit, meen akwakultuur is ’n moontlike “volhoubare alternatief” vir die vissers van Elandsbaai en Lambertsbaai. 
“Stropery is ’n euwel, ons is dit almal eens. Die staat kan egter nie die vissers net verbied van die visbron en niks in die plek daarvan sit nie. Akwakultuur is ’n manier vir die staat en vissersgemeenskappe om saam te werk. Om stropery te stop is nie iets op sy eie nie – dit is ’n taak wat holisties genader moet word,” sê Matthyse. 
Die volgende verhore word Woensdag 8 Februarie in Gansbaai en Vrydag 10 Februarie in Kaapstad gehou.

Die Wes-Kaapse staande komitee oor ekonomiese geleenthede en toerisme is besig met openbare verhore in vissersgemeenskappe om te hoor hoe perlemoenstropery bestaansvissers raak. Voorsitter van die komitee Beverley Schäfer (middel) was Vrydag in Saldanha.

You need to be Logged In to leave a comment.