Dat ’n uilwyfie dadelik sal nader vlieg om nuwe aankomelinge by die uilskuiling van nader te beskou en dadelik onder haar vlerk neem én dat uile mal is oor swem, is van die gedrag van haar aanneemuile wat Michelle Pienaar van Saldanha verstom.
Sy het 15 jaar gelede haar die liefdestaak opgelê om beseerde roofvoëls van verskillende vere te versorg en te help rehabiliteer, hoofsaaklik gevlekte ooruile (spotted barn owls) en nonnetjiesuile (barn owls).
Almal na aan haar is ook by die reusetaak betrek – veral lewensmaat Joe Shaun en hul werkers, Sipo Magoso en Fix, wat almal bydra tot die daaglikse take van hokke skoonmaak en kos gee.
Die personeel by Prem-Med, Pienaar se mediese praktyk, is ook gewoond om in te spring en te help. Uilkuikens en ander beseerde voëls word sommer na hul sakeperseel in Kampstraat gebring. Almal neem egter uit liefde vrywillig deel.
Pienaar-hulle het eers met papegaaie geboer en hier en daar met ’n beseerde uiltjie gehelp. Hul paaie het met dié van Henk Charmers van Eagle Encounters (Stellenbosch) gekruis en ’n wedersydse samewerkingsverhouding het begin.
Charmers het en gee steeds vir hulle raad en neem gedurig van die roofvoëls in. Wanneer Pienaar nie voëls soos bloukransvoëls, sekretarisvoëls, seevoëls en vleivalke kan huisves nie, word hulle na die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls (Sankub) in die Kaap gebring, waar Charmers hulle dan kom haal.
Aanvanklik het byna al die voëls hul weg na Stellenbosch gekry, wat vir Pienaar hartseer was omdat die Weskus sy roofvoëls verloor het. Daarom het hulle besluit om permitte te kry om die voëls self te rehabiliteer en te versorg sodat hulle weer in die Weskus, verkieslik naby die plekke waar hulle gekry is, losgelaat kan word.
“Die uile vreet gereeld vergiftigde rotte en muise en word dan sommer lam en tam,” vertel Pienaar. Hulle moet medisyne kry en gevoer word totdat hulle oor die ergste is, gewoonlik na drie weke, en kan dan eers vrygelaat kan word.
Daar is tans 13 gerehabiliteerde roofvoëls wat gereed is om vrygelaat te word. Pienaar sê dat boere deesdae meer geneig is om muisplae op die natuurlike manier, met uile, te beveg. Hulle bou uilhuise en Pienaar en haar span help hulle dan om die uile te hervestig. Uile is gebiedsgebonde en daarom kan nie meer as een “gesin” in ’n gebied vrygelaat word nie.
Skenkings om te help kan in Pienaar se rekening by Wesland-dierekliniek betaal word. Hul kostes is hoog omdat hulle elke voël wat hulle kry eers moet laat ondersoek en in isolasie moet hou. Hulle benodig ook skenkings van gevriesde dagoudkuikens. Bel haar by 079 492 1959.
. Pienaar maan mense om nie sommer ’n gesonde gevlekte ooruil wat dalk op die grond sit, op te tel en te wil “red” nie. “Die uilkuikens verlaat die nes voordat hulle kan vlieg, maar die ouers sorg steeds vir hulle. Hulle klim weer terug in die nes met hulle skerp kloue.”
Wanneer ’n uilkuiken wel hulp nodig het, is wanneer dit mank is, ’n vlerk het wat sleep of sy lewe in gevaar is deur byvoorbeeld ’n kat. Bring dit asseblief so gou as moontlik na Wesland-dierekliniek in Skoolstraat, Vredenburg.