Sou dit verkeerd wees as ek sê dat hierdie persoon met ’n bal in die hand gebore is?
Juffrou Marietjie Potgieter van Hoërskool Porterville weet net waar om die bal te plaas en wanneer die verdediger moet opspring, want haar netbalkennis het haar al baie ererolle laat beklee.
Sy was op skool al ’n top presteerder in netbal en het van graad agt af provinsiale kleure verwerf. Tans rig sy Hoërskool Porterville se eerste netbalspan af en is al vir vyf jaar die afrigter van die Wes-Kaap o.18-span.
Een van haar wildste drome het onlangs waar geword met haar aanstelling as afrigter van die Proteas se o.18-netbalspan.
Terwyl haar leerders die somme laat val in die wiskundeklas, is sy en haar spannetjie besig om die opponente oor hul eie voete te laat val. By ’n onlangse toernooi in Durban het haar span al hul wedstryde gewen.
Haar passie vir netbal en liefde vir die spel is onbeskryflik groot. Die kinders in haar spanne beskryf haar as ’n slawedrywer, maar ook ’n tweede ma. Baie mense dink haar manier van afrig kan soms ’n bietjie hard wees, maar glo my “there is a method to her madness.”
- Hoërskool Porterville is baie trots op ons juffrou en sal haar in al haar glorie ondersteun.