Gaste is onlangs op Badisa Weskus se jaarvergadering ingelig oor die goeie werk wat Badisa doen.
Die geleentheid het Vrydag (13 September) by Beacon-kerk in Langebaan plaasgevind. Ongeveer 70 gaste het die dag bygewoon en die geleentheid gehad om na die insiggewende statistieke en die programme wat Badisa aanbied, te luister.
Nzondie Ngalwana, ’n maatskaplike hulpwerker en program-fasiliteerder by Badisa Weskus, het by die geleentheid gesê ’n enorme behoefte bestaan aan lewensvaardigheidsprogramme in plaaslike skole onder leerders wat uitdagende gedrag toon.
Dikwels word etikette aan hierdie kinders gehang. Negatiewe woorde wat oor hulle gespreek is, word die gedagtes wat hulle oor hulself glo en bepaal uiteindelik hul toekoms.
Ngalwana het aan die gaste vertel dat Badisa Weskus in die boekjaar van April 2022 tot Maart 2023 met sy vroeë ingryping-lewensvaardigheidsprogram by Noordhoek Primêr in Velddrif begin het.
Die program was só suksesvol by Noordhoek Primêr dat dit in die boekjaar van 2023 tot 2024 na Langebaan Primêr, Jurie Hayes Primêr, die Laerskool Saldanha, Weskus Skool en die Hoërskool Velddrif uitgebrei is.
Elsabé Bester, die organisasie se hoof van maatskaplike dienste, het op haar beurt aan die gaste by die jaarvergadering verduidelik hoe Badisa Weskus se diensleweringsmodule lyk.
Die lewensvaardigheidsprogramme vorm deel van Badisa Weskus se vroeë-intervensie-dienste, wat tot ’n vermindering in die behoefte aan statutêre dienste behoort te lei.
Statutêre dienste behels die verwydering van kinders uit gevaarlike situasies en plasing in alternatiewe versorging, die stabilisering van kinders in die sorg van alternatiewe gesinne waar nodig, die monitering en bestuur van kinders wat in pleegsorg geplaas is en verwysing na ’n aannemingsprogram as dit nie moontlik is om sullke kinders by hul biologiese ouers terug te plaas nie.
Volgens Badisa Weskus se jaarverslag is dienste aan altesaam 1 500 kinders in die afgelope finansiële jaar in Velddrif, Vredenburg, Langebaan en Saldanha gelewer.
Altesaam 755 kinders is deur Badisa Weskus se lewensvaardigheidsprogramme bereik. Tans het Badisa nog 204 pleegkinders in alternatiewe sorg op Badisa Weskus se boeke.
’n Groot behoefte bestaan aan die werwing van geskikte pleegouers by Badisa Weskus. As jy belangstel om uit te vind of jy kwalifiseer om ’n pleegouer te wees of meer hieroor wil uitvind, stuur gerus ’n e-pos-boodskap na admin@badisawk.org.za
As jy belangstel om op ’n ander manier by Badisa Weskus betrokke te raak deur jou tyd of ’n skenking te gee, stuur ’n e-pos-boodskap na marketing@badisawk.org.za