Vanjaar se Hopefield-fynbosskou het sowat 5 800 besoekers verwelkom – ’n getal waarop die organiseerders baie trots is.
Volgens Helena van der Westhuizen, die voorsitter van die skoukomitee, is dit die 35ste skou sedert sy ontstaan.
Ná ’n paar dae van reën het die wolke oopgetrek en die vierdaagse skou is met sonskyn geseën.
“Almal het die skou absoluut geniet en ons is regtig dankbaar daarvoor, met die grootse opkoms wat natuurlik Saterdag was,” sê Van der Westhuizen.
Sy meen die fynbossaal was soos elke jaar baie besonders en ook ’n hoogtepunt wat besoekers baie geniet het.
“Alles het goed verloop en was uitstekend.”
Besoekers het die onderskeie aktiwiteite, kos, vermaak en samesyn geniet.
Van der Westhuizen is dankbaar vir almal se bydrae en bedank elkeen wat gehelp het om die skou ’n groot sukses te maak.