Weens die ongelooflike belangstelling in die Mej. Tiener Fynbos-modelkompetisie wat elke jaar op die openingsaand van die Hopefield-fynbosskou plaasvind, moes die organiseerders vanjaar die inskrywings by 84 sluit.
Kinders van 2-18 jaar oud het ontwerpersuitrustings volgens die Barbie-en-Ken-tema aangetrek, wat met enige kompetisie in die stad sou kon vergelyk én oortref.
Daniella van Niekerk en Juandré Corrie het met die louere as Mej. en Mnr. Tiener Fynbos 2024 weggeloop. Hulle kon met selfvertroue wys hulle geniet dit om op die loopplank te wees en het sommer spontane pret gehad. Daniella is ook saam met Jordan-Michael Nel as besgeklede meisie en seun aangewys.
Benewens dat die beoordelaars gekyk het dat die uitrusting by die tema én die kind se ouderdom pas, moes die beoordelaars deelnemers ’n punt uit vyf gee vir spontane optrede en selfvertroue. Spontane glimlagte en pret met die hele affêre is wat in baie opsigte die topdriedeelnemers in elke afdeling laat uitstaan het.
In die meeste gevalle het die wenners met net ’n punt voorgeloop. In verskeie afdelings het selfs twee kinders dieselfde punt behaal en moes dié afdelings weer loop sodat die beoordelaars ’n finale besluit kon neem.
Dit is die tweede jaar dat seuns ook kon deelneem.
Die beoordelaars was vanjaar ds. Tolla van der Merwe van die Hopefield NG kerk, Annemarie van der Merwe van West Coast Garage Doors, Rugaya Dalwai van die Hoërskool Diazville en Alida Buckle van Weslander met Petra Mei as seremoniemeester.
Die organiseerders, Denise Jordaan en Jessica Bosman, bedank elke borg wat tot die hope geskenkpakke vol hoëgehalteprodukte vir die deelnemers en beoordelaars bygedra het.