‘n Gemeenskapsaktivis en pastorale berader van Franschhoek het vandees- week gesê die Groendal Sekondêre Skool het versuim om sy klagte oor die beweerde seksuele mishandeling van skoolmeisies ernstig op te neem.
Volgens die aktivis het hy die skool se maatskaplike werker in Februarie vanjaar gaan spreek nadat hy klagtes ontvang het dat ‘n “gesiene man in die gemeenskap” tienermeisies glo seksueel voorberei het en in ‘n seksuele verhouding met ‘n graad-10-meisie was.
Hy sê hy het ook aan die Franschhoek-polisie se deur gaan klop, wat glo gesê het hulle sal nie die bewerings kan ondersoek alvorens die leerders se ouers nie klagtes aanmeld nie.
Paarl Post het vroeër vandeesmaand berig dat sowat 300 inwoners van Groendal op 1 Julie na die Franschhoek-polisiekantoor opgeruk het om onder meer strafregtelike optrede teen die beweerde seksuele oortreder te eis.
LEES: Franschhoek-inwoners betoog teen geskorste sekspes-onnie
Die beweerde oortreder, vermoedelik in sy 50’s, se identiteit is aan Paarl Post bekend, maar word weerhou om die beweerde minderjarige slagoffers te beskerm.

Hy is in 2017 weens die seksuele molestering van ‘n minderjarige skoolmeisie aangekla en het ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar in die Paarl-streekhof ontvang.
“Ons praat hier van ‘n man wat die minderjariges en hul ouers emosioneel manipuleer. Hy ondersteun hulle finansieel en koop vir die skoolmeisies selfone. Dit is hoekom geen aksie teen hom sedert die optog geneem is. Niemand het nog klagtes aangemeld nadat die nuwe bewerings uitgekom het nie,” het die aktivis vandeesweek gesê.
“Hy doen homself al die jare as ‘n pastoor voor en dis een van die wyses waarop hy die gemeenskap manipuleer. Sy eie kerk het aan my bevestig dat hierdie man g’n pastoor is nie. Hulle [die kerk] sou nog aksie teen hom neem, maar dit het nog nie gebeur nie.
“Die skool en die Fransch- hoek-polisie het die gemeenskap gefaal. Hulle is lank reeds ingelig oor wat die man doen. Hulle was bewus van sy vorige oortredings waarvoor hy gestraf is, maar steeds is hy toegelaat om skoolkinders – hoofsaaklik meisies – te vervoer. Hoekom is hy nog op vrye voet?” het die aktivis gevra.
Die optog op 1 Julie het gevolg nadat ‘n video aanlyn versprei is waarin die beweerde oortreder glo met ‘n skoolmeisie in haar skooluniform seksueel verkeer.
Hoewel die man se gesig, asook dié van die tienermeisie nié in die video sigbaar is nie, kan hy aan sy stem uitgeken word, het ‘n ander plaaslike aktivis vroeër gesê.
Sy het egter bygevoeg dit is moeilik om te bepaal wanneer die video geneem is.
Die video is volgens haar na die polisie se afdeling vir kubermisdaad verwys.
Kol. Frederick Rossouw, die bevelvoerder van die Fransch- hoek-polisie, sê die polisie se ondersoek duur voort en die beweerde oortreder is nog nie aangekeer of aangekla nie.
Paarl Post het op 3 Julie berig die beweerde oortreder was op ‘n tydstip ‘n opvoeder by Groendal Sekondêre Skool.
Millicent Merton, ‘n woord- voerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het egter by navraag gesê hy was in die vroeë 1990’s deel van die skool se administratiewe personeel, maar is sedertdien in geen ander kapasiteit by die skool betrokke nie.
Volgens Merton is die departement verwittig oor die video wat aanlyn versprei is.
“Die skoolhoof het dadelik alle rolspelers, insluitend die polisie, betrek toe die bewerings oor die video gemak is. Die departement doen ‘n beroep op enigeen met inligting oor die video om kontak met die polisie te maak.
“Die skoolhoof het aangedui dat die beweerde oortreder nie ‘n diensverskaffer is nie. Die departement het nie beheer oor private vervoerdienste wat deur ouers gereël word nie.”



You must be logged in to post a comment.