Letitia Van Zyl-Schultz

Forest Friends in Vredenburg bied sedert 2020 nie net heerlike koffie en tuisgebakte lekkernye nie, maar is ook ‘n plek waar gemeenskap, natuur en bewustheid hand aan hand loop.

Die eienaars, Louis en Nadine Kuys, het hul passie vir koffie, kos en die aarde in hierdie unieke ruimte saamgesnoer in ‘n plek wat met tyd ‘n toevlugsoord vir baie geword het. “Ons wou van die begin af ‘n gemeenskap bou en die mooi ruimte met ander deel,” vertel Louis. “Vredenburg het destyds vir ons so dof gelyk en ons wou ‘n bietjie lig en warmte bring, en ons huis, wat te groot vir ons alleen was, oopstel.”

By Forest Friends lê die fokus sterk op ‘n volhoubare leefstyl en respek vir die natuur – iets wat Louis en Nadine veral aan kinders wil oordra. “In vandag se vinnige wêreld vergeet mense om te waardeer,” sê Louis.

“Kyk maar hoe lank dit neem om ‘n vrug of groente te kweek – maande of selfs jare se versorging. As ‘n mens bewus raak van daardie proses, groei jou waardering. Dis anders as om net winkel toe te gaan en iets dadelik te koop.”

Louis sê hulle probeer deur die winkel wys dat goeie dinge tyd en liefde verg.

“Ons deel die stories agter die prosesse, soos hoe lank dit vat om suurdeegbrood te bak, of die sorg wat by die melk van ‘n bok betrokke is, of wag totdat hoenders hul eerste eiers lê. As mense die verhaal agter iets verstaan, waardeer hulle dit meer.”

Vir Louis en Nadine gaan Forest Friends oor meer as kos en koffie – dit gaan oor hoop en selfontdekking. “Ons hou werkses-

sies en bewusmakingsdae sodat mense kan leer hoe om stadiger te leef, asem te haal en weer tyd te maak vir kuns, gesels en eenvoudige dinge in die lewe om net te geniet. Dis in daardie oomblikke waar mense weer hulself en hul plek in die wêreld vind.”

Louis glo dat verandering by klein dinge begin:

“Wanneer mense se bewustheid groei, kom daar waardering, vir die wêreld; vir mekaar. En uit daardie waardering volg groter respek en sorg. Dis hoe ons almal bewaar-

ders van die wêreld kan word.”

• Forest Friends is dus nie net ‘n koffie-

winkel nie, maar ‘n herinnering dat stadig leef, dankbaarheid en liefde vir die aarde ‘n manier van lewe kan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025