Die leerders van Panorama Primêr in Vredenburg is onlangs deur FNB besoek nadat dié tak ‘n goedhartige skenking van R50 000 aan dié skool gemaak het.
Volgens Hylton Langley, die skoolhoof van Panorama Primêr, is ‘n behoefte geïdentifiseer en die geld is gebruik om nuwe skoolbaadjies asook sweetpakke aan die grondslagfase-leerders wat dit nie kan bekostig nie, te voorsien.
Die doel van die baadjies is ook sodat die leerders hul skool se naam met trots kan dra en op hul voorkoms ag slaan.
Langley sê dit gaan oor veel meer as net ‘n kledingstuk en dat ‘n skoolbaadjie ‘n gevoel van trots, gelykheid en ‘n gevoel van behoort verleen.
“Ons glo hierdie projek is soos ‘n positiewe kettingreaksie en sal hoop, inspirasie en aanmoediging bring aan leerders wat deur moeilike omstandighede gaan. Ons droom is dat dié eenvoudige daad ‘n vonk sal wees en baie aanmoedig om bo hul omstandighede uit te styg en hul toekoms met vertroue tegemoet te gaan.”
Langley en die skool bedank FNB asook Alestaire Brown, die ondernemingsverhoudingbestuurder van FNB, en sy span vir hul betrokkenheid.
“Die woord dankie is dalk klein, maar die betekenis wat dit in hierdie konteks dra, is van groot waarde. Ons spreek ons opregte en innige waardering uit. Dit is nie net ‘n skenking wat oorhandig is nie, maar hoop in die oë van ons leerders.”
Volgens Brown glo FNB in ubuntu. Hy het sy omstandigede gedeel en die leerders met sy storie inspireer. Hy het die leerders en personeel herinner om altyd nederig te wees, asook sy trots om in die skool te kan terugploeg, uitgespreek.
