Voornemende huiseienaars wie se inkomste te veel vir ’n gratis staatsgesubsidieerde woning en te min vir ’n banklening was, kan nou danksy Flisp moontlik die eiendomsmark betree.
Flisp, ofte wel die Finansiesgekoppelde Individuele Subsidieprogram, is gefokus op eerstehandse huisbesit vir huishoudings in die oorbrugging- of bekostigbare mark met ’n gesamentlike verdienste tussen R3 501 en R22 000 per maand.
Die idee van die program is om meer Suid-Afrikaners volwaardige huiseienaars te maak en nie net huurders nie.
Individue op die betrokke salarisvlakke vind dit dikwels moeilik om vir behuisingsfinansiering te kwalifiseer. Hul inkomste is te laag vir verbandfinansiering, maar te veel om vir die regering se gratis behuising-subsidieskema te kwalifiseer.
Die eenmalige Flisp-subsidiekwalifiserende bedrag waarvoor aansoekers kan kwalifiseer kan tussen R27 960 en R121 626 wees.
Dié bedrag hang af van aansoekers se bruto maandelikse inkomste, soos omskryf in die Flisp Subsidy Quantum.
Die program is slegs beskikbaar vir eerstekeer-huiskopers wat vir ’n verband kwalifiseer.
Om meer van Flisp uit te vind en te hoor of jy kwalifiseer, kontak die provinsiale kantoor van menslike nedersetting by 021 483 6488 of 021 483 0623 of 021 483 2060 of stuur ’n epos na human.settlements@westerncape
.gov.za.
Huissoekers kan ook die departement se webblad by www.westerncape.gov.za/dept/human-settlements gebruik.