’n Parate sersant het vinnig tot die redding van ’n skoolseun gekom toe twee mans die tiener onderweg na die bushalte beroof het.

Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, was die tiener (18), wat in Vredenburg skoolgaan, Vrydagoggend (20 Januarie) om 06:45 onderweg na ’n bushalte in Saldanha toe twee mans hom in Manitokastraat voorgekeer het.

Op daardie oomblik het sersant Fanie van Rooyen, wat patrolliediens gedoen het, verbygery en gesien hoe twee mans, van wie een ’n mes gehad het, die skoolseun beroof.

Kotze sê daar was ’n stoeiery en die tiener se hand is in die struweling raakgesny. Toe die rowers die polisievoertuig sien, het hulle te voet met geld, wat hulle by die skoolseun afgevat het, gevlug. Van Rooyen het agter hulle aangejaag. Die twee verdagtes het toe strandlangs weggehardloop en die sersant het sy voertuig omgedraai en hulle van ’n ander kant af benader. Uiteindelik het hy die mans vasgetrek en die twee vermeende rowers, wat onderskeidelik 24 en 25 jaar oud is – manalleen en sonder enige bystand – in hegtenis geneem.

Die verdagtes het Maandag (23 Januarie) in die plaaslike hof verskyn.

Kotze het Van Rooyen geloof vir sy flinke optrede wat tot die inhegtenisneming van dié twee mans gelei het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025