Met meer as vier dekades in die polisie het adjudant-offisier Ewald Botha van Piketberg nou afgetree.

‘n Erewag deur sy kollegas het die respek en eer getoon wat hulle oor die jare vir hom opgebou het.
Botha is in Virginia in die Vrystaat gebore en het in 1983 in Nuwerus in Namakwaland matrikuleer.
Die keuse ná skool was twee jaar in die weermag, vyf jaar by die polisie of vyf jaar by Korrektiewe Dienste.
Botha onthou die oproep-instruksies van die weermag was na Walvisbaai in Namibië en dat die sandduine nie na ‘n goeie idee geklink het nie. Boonop was die salaris van die troepe nie veel meer as R130 per maand nie.
“Die polisie het darem R500 aangebied. So, ek wou aanvanklik net die vyf jaar agter die rug kry om daarna ‘n ander werk te kry. Die vyf jaar het toe 41 jaar en nege maande geword omdat ek besef het dat polisiewerk my roeping is.”
Botha het in Nuwerus as ‘n student aangesluit en is in Januarie 1984 vir ses maande na die polisiekollege in Pretoria, waar hy opleiding ontvang het.
Daardie jare was dit nie ‘n gegewe om weer Wes-Kaap toe te kom nie. Die polisie het jou gestuur waar jy benodig is – enige plek in Suid Afrika.
Botha het ‘n paar skuiwe tussen Athlone, Kayelitsha, KwaZulu-Natal en Citrusdal gemaak voordat hy in 2012 by die Piketberg-polisie aangesluit het. Hy het oor die jare baie geleer en bedank die polisie vir die geleenthede wat hy aangebied is.
Wat hy tydens sy jare by die polisie geniet het, was om met die publiek te werk, te help en ‘n glimlag en dankbaarheid te kon aanskou.
“Dit was ook aangenaam om by ‘n groot inhegtenisnemings betrokke te wees. Die laaste een was toe ek en drie kollegas drie mans aangekeer het terwyl hulle ‘n gewapende roof by MTN op Piketberg uitgevoer het. Ons het op twee vuurwapens beslag gelê. Die hele rooftog en die inhegtenisnemings is op die winkel se geslotebaantelevisie vasgevang. Ek het die beeldmateriaal verkry en het nou ‘n stukkie nostalgie vir wanneer ek oud is. In die 41 jaar was ek ook verskeie kere, soos in Psalm 23 staan, deur ‘n dal van doodskaduwee. Ek weet as dit nie vir God se genade was nie, was ek nie vandag hier nie.”
Botha se boodskap aan lede van die polisie is dat elke mens sy of haar waardigheid het. “Behandel almal – selfs die hawelose man wat onder die brug slaap – met respek, en jy sal respek ontvang. Wees ook altyd ‘n goeie voorbeeld vir ander, maar heel eerste omdat ons so ‘n gevaarlike werk het, moet jy nooit jou dag sonder God begin nie.”
Botha meen hy gaan alles van sy tydperk in die polisie mis. Hy het tans geen planne vir sy aftrede nie en bieg hy was nie eintlik gereed vir aftrede nie, juis omdat hy direk ná skool by die polisie aangesluit het en sy hele lewe daarom gedraai het. Botha sê hy sal wel graag deur die land wil reis.
“Die erewag wat deur my kollegas vir my gehou is, was vir my ‘n emosionele ervaring, want ek is van nature nie ‘n ou vir die kollig nie, en hier is ek skielik die belangrikste persoon teenwoordig. Ek het ook met die uitstap besef dit is verby; ek gaan nie meer betrokke wees by ‘n werk waarvoor ek baie lief was nie. Alles het egter ‘n begin en ‘n einde.”
Boodskappe met goeie wense het op sosiale media ingestroom – ‘n bewys van die invloed wat Botha in sy gemeenskap gehad het.



You must be logged in to post a comment.