Het jou tiener skielik ’n persoonlikheidsverandering ondergaan? Ervaar hy gemoedskommelings of is hy gedurig erg geïrriteerd?
Jy is moontlik bekommerd oor die oorsaak van hierdie kommerwekkende simptome en met volle reg.
Ouers behoort alles in hul vermoë te doen om uit te vind waarom hul tiener slegte gedrag ontwikkel of erge buie of terneergedruktheid ervaar.
Soms speel hormone ’n rol, ervaar ’n kind spanning oor sy skoolwerk of word hy geboelie, maar dikwels gaan die bogenoemde persoonlikheidsverwante veranderings gepaard met dwelm- of alkoholmisbruik. Dis baie belangrik vir ouers om so gou as moontlik agter die kap van die byl te kom en die nodige hulp vir hul kinders te kry.
Gawie Smit, ’n kliniese sielkundige van die Weskus, deel graag sy professionele mening oor die uitwerking van dwelms en alkohol op ’n tiener se geestesgesondheid met Weslander se lesers.
“Dwelms het ’n groot uitwerking op die kind se vermoë om sy of haar emosies te reguleer,” verduidelik Smit.
“Vir tieners is dit reeds ’n baie moeilike emosionele tyd in hul lewe en dit opsigself lei tot die gebruik van dwelmmiddels of alkohol om hierdie stresvolle emosies te hanteer.
“Kinders het dalk met eksperimentering agtergekom dwelms gee hulle rustigheid en ook selfvertroue, dog is dit ’n vals positiewe selfvertroue. Want gevoelens van kwaad, lae selfwaarde, skuldgevoel en frustrasie word sodoende tydelik onderdruk.
“Dwelms beïnvloed die brein in die sin dat dit die limbiese sisteem in die brein beïnvloed. Dit is die gebied in die brein wat verantwoordelik is vir die verwerking van emosies. Wanneer dwelms hierdie gebied beïnvloed, kan dit bydra tot ’n depressiewe gemoed, gemoedskommelings, emosionele uitbarstings en volgehoue geïrriteerdheid. Benewens hierdie simptome is daar ook ander tekens:
Ander tekens van moontlike dwelm- en alkoholgebruik:. Fisieke en psigiese gesondheid gaan agteruit;. Verdere agteruitgang van verhoudinge, met ouers, sibbe, familie en vriende;. akademiese onderprestasie;. onttrekking aan buitemuurse aktiwiteite;. afname in sosiale interaksie;. vertraging in hul emosionele ontwikkeling;. agterstand in hul persoonlikheidsontwikkeling, wat ook ontwikkeling van eie identiteit insluit;. drastiese gedragsveranderings;. verandering in slaappatrone, soos soms te min en soms te veel slaap;. emosionele uitbarstings;. aggressie; en. fisieke tekens soos ongekende uitdrukking in die oë en vergrote pupille.
Gesonde hantering van emosies
“Baie behandelingsprogramme bestaan om die kind te leer om komplekse emosies op ’n gesonde manier te hanteer,” verduidelik Smit.
’n Kind moet geleer word hoe om gesonde verhoudings, wat waarde tot hul lewe voeg, te kweek.
“Die ontwikkeling van hul eie identiteit is baie belangrik. Tieners moet geleer word hoe om hul emosies te erken en aan hulself te omskryf. “Ongelukkig het hulle nie altyd die woordeskat om hul emosionele ervaring behoorlik te kan omskryf nie; daarom kan ons nie van hulle verwag om dit soos volwassenes te hanteer nie. Baie volwassenes kort ook daardie vaardighede. Baie tegnieke kan vir die kind aangeleer word, soos ontspanningsoefeninge, asemhalingsoefeninge en spierontspanning.
“Die kind moet bewus word van oomblik-tot-oomblik-veranderings in hul emosies en gemoed. Dit help met die bestuur van onaangename emosies. Eerder as om vasgevang te word in die emosie of om dit te probeer beveg, leer die kind om dit objektief te beskou en te bestuur.
Wanneer jy misbruik vermoed
“Dit moet met groot omsigtigheid hanteer word. Moenie sommer aanneem of beskuldig nie,” waarsku Smit.
“Indien die kind wel met dwelms deurmekaar is, is dit waarskynlik dat die verhouding tussen die kind en ouer nie na wense is nie.
“Daarom is dit beter om die kind na die huisdokter te neem, wat minder bedreigend vir die kind sal wees as om direk na ’n sielkundige te gaan.
“Dis die dokter se taak om die kind te oortuig om na ’n sielkundige te gaan. Daar moet aan die tiener verduidelik word wat die rol van ’n sielkundige is.
“Die ouers moet die vertroulikheidsaspek van die kind se interaksie met die sielkundige respekteer en vertrou.
“Om voorkomend te wees, moet ouers baie meer in hul kinders se lewe betrokke wees – meer as ooit tevore!” waarsku Smit.
“Ouers moet ook hulself bemagtig met kennis en leer hoe om kinders groot te maak aangesien geen ouer al bevoeg is vir hierdie reusetaak wanneer die pasgebore baba in hul arms geplaas word nie.”