Die uitdagings van 2020 het nie daarin geslaag om Elrie Bester van Hoërskool Vredenburg onder te kry nie.
Elrie is as een van die skool se topstudente in matriek aangewys en het ’n 82,14%-gemiddelde. Sy sê elke dag se hersiening en deur vraestelle werk het haar baie gehelp. “Dit was altyd belangrik om die werk deeglik te verstaan eerder as om dit soos ’n papegaai te memoriseer,” vertel Elrie.
Die matriekklas van 2020 het nie geweet wat dié jaar vir hulle voorlê nie en hulle moes die beste van die situasie maak. Elrie verduidelik selfstudie is een van die uitdagings wat sy ervaar het. “Veral die min kontak met onderwysers en om gemotiveerd en op datum met al die skoolwerk te bly.”
Die jaar het ook sy hoogtepunte vir hierdie jong vrou gehad. “Een van my persoonlike hoogtepunte was toe ek ná my laaste vraestel uit die eksamenlokaal gestap het. Ek was verskriklik bly en opgewonde om met die volgende fase van my lewe te begin.”
Volgens Elrie het die ondersteuning van haar familie en vriende regdeur die jaar vir haar baie beteken. “Ek glo die belangrikste deel van hul ondersteuning was dat hulle my nooit verplig laat voel het om te presteer nie en hulle het my altyd moed ingepraat as ek akademies swak sou vaar.”
Elrie is gereed om die toekoms aan te durf en enige uitdagings aan te pak wat na haar kant toe kom.
“Ek het baie belangstellings. Miskien begin ek eendag my eie onderneming of dalk werk ek vir Nasa. Een ding wat ek wel van my toekoms weet, is dat ek nooit wil ophou leer nie.”