Inwoners en grondeienaars word aangemoedig om tydens die brandseisoen waaksaam te wees.

CapeNature doen ‘n beroep op die publiek om waaksaam en proaktief te bly met die veldbrandseisoen wat op hande is.

Hulle herinner almal daaraan dat die koste van veldbrande veel groter is as wat baie besef.

Volgens Petro van Rhyn, ‘n woordvoerder van CapeNature, bedreig veldbrande elke jaar lewens, vernietig huise en infrastruktuur en veroorsaak blywende skade aan die Wes-Kaap se biodiversiteit.

Van Rhyn sê gedurende die 2024-’25-brandseisoen het CapeNature se koste vir brandbestryding alleenlik R20 miljoen oorskry.

“Skade aan die entiteit se infrastruktuur was ook ernstig, terwyl private grondeienaars ook skade gely het. Regseise vir skade aan woude en infrastruktuur het R300 miljoen oorskry.

“Tog kan die ware koste van brande nie net in rand gemeet word nie. Veldbrande neem lewens, ontwortel gesinne en plaas gemeenskappe in gevaar. Hulle dra ook ‘n verwoestende prys vir die natuur. In 2024-’25 het altesaam 97 brande meer as 75 000 hektaar verbrand, noodsaaklike habitatte vernietig, wildlewe bedreig en biodiversiteitsveerkragtigheid verminder.”

Van Rhyn voeg by van die gebied wat verbrand is, was 42% private grond en 58% Cape- Nature bestuurde grond.

“Deur brande op beide private en CapeNature bestuurde grond te bestry, toon die organisasie sy verbintenis om brande so gou as moontlik te beheer. Die verliese herinner ons ook daaraan dat die gevolg van brande veel verder as infrastruktuur rimpel en die ekologiese fondament waarvan beide mens en natuur afhanklik is, kan ondermyn.”

CapeNature beklemtoon ook dat brandvoorkoming nie net ‘n regeringsverantwoordelikheid is nie, maar ‘n gedeelde gemeenskapsplig is.

Ashley Naidoo, die hoof van CapeNature, sê wanneer ‘n brand uitbreek, betaal almal die prys – hetsy deur lewensverlies, infrastruktuur wat vernietig word of biodiversiteit wat benadeel word.

“Maar wanneer ons optree voordat ‘n brand selfs kan begin, baat almal daarby.”

CapeNature doen ‘n beroep op alle inwoners, grondeienaars en besoekers om gedurende die veldbrandseisoen waaksaam te bly en saam te werk om die Wes-Kaap se mense, eiendomme en natuurlike erfenis veilig te bewaar. Indien voorkoming misluk, is opsporing die volgende stap in verdediging.

Meld enige teken van rook of vuur aan deur 112 van ‘n selfoon of 10177 van ‘n landlyn af te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025