By Langebaan Primêr probeer een onderwyser om daagliks 60 leerders te onderrig, maar hulp is nou ingespan danksy ondersteuning uit die privaatsektor.
Bykomende onderwysers vir graad 1, 3 en 7 is onlangs op ’n 12 maande-kontrakbasis aangestel danksy Umoya Energy, wat aan die stuur van die Hopefield Windplaas staan.
Volgens die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), kan daar tot 39 leerders per onderwyser per klas wees.
Die druk vir plek by die geen-fooi-skool neem egter jaarliks toe, sê die waarnemende skoolhoof, Melvan Davids. Onderwysersgetalle neem egter nie altyd so vinnig soos die leerders se getalle toe nie, sê hy.
Davids sê die skool is verheug oor die bykomende onderwysers. “Ons is veronderstel om net onder 40 leerders te hê vir elke onderwyser, dus danksy die addisionele onderwysers kon ons die groot klasse opdeel,” verduidelik hy.
Dié onderwysers is sedert die begin van die skooljaar by die skool in beheerliggaamposte aangestel met hul salarisse wat tot die einde van die jaar deur Umoya gedek sal word.
Davids sê die toename van leerders is ’n uitdaging wat personeel aanbetref, maar hy hoop die WKOD sal uiteindelik ’n permanente pos skep waarvoor die departement sal betaal.
“Umoya is daartoe verbind om onderwys in ons plaaslike gemeenskap te ondersteun en die befondsing van die salarisse van die addisionele drie onderwysers dui op ons volgehoue toewyding,” sê Ryan Hammond, hoof uitvoerende beampte van Umoya Energy – Hopefield Windplaas.