Ekspo nou groter én beter

Vanjaar se Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes het nie net meer projekte opgelewer nie, maar ook van ’n hoër standaard.


Vanjaar se Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes het nie net meer projekte opgelewer nie, maar ook van ’n hoër standaard.

Dis die 36ste keer wat die ekspo landwyd aangebied word, met 31 streke wat deelneem, en die Weskus se beurt het Vrydag 19 Augustus by Hoërskool Diazville plaasgevind.

Leerders word deur die ekspo die geleentheid gegun om hul kennis te gebruik om aandag te gee aan die land se mees kritieke kwessies en vraagstukke deur middel van ’n wetenskap-uitstalling.

Vanjaar se ekspo het ’n wye verskeidenheid opgelewer, van watter middel die beste werk om vleis te ontdooi, tot watter tipe skadunette die meeste water opvang vir waterbesparing.

Vir die heel eerste keer het ses skole aan die Weskus-streek se ekspo deelgeneem, en met 129 projekte wat vanjaar ingeskryf is, in vergelyking met 64 verlede jaar, het beoordelaars ’n wye reeks projekte gehad om van te keur.

Volgens Ursula Boys, plaaslike organiseerder, was die standaard van die projekte vanjaar ook beslis hoër as vorige jare.

“Onderwysers is meer op die hoogte van wat van die leerders verwag word wanneer projekte gedoen moet word,” het Boys oor die hoër standaard gesê.

Altesaam agt projekte is met goue medaljes beloon. Hulle is dié van: Waldo de Waal, Henko van Wyk, Megan Frost (almal Curro Langebaan), Nickilese van der Walt, Shana van Wyk (albei Vredenburg Hoërskool), Liesbet de Wet, Stefan Ferreira (albei Hoërskool Vredendal) en Alexia Zurnamer (Hoërskool Hopefield).

Ná die ekspo is sewe projekte gekies vir deelname aan die Internasionale Ekspo vir Jong Wetenskaplikes, wat later vanjaar in Johannesburg plaasvind. Hulle is: Alexia Zurnamer (Hoërskool Hopefield), Ansil Nefdt (Hoërskool Diazville), Shana van Wyk (Vredenburg Hoërskool), Jayden Klein en Jenecke de Wet, Mathaniel Tieties (almal Nieuwoudt Primêr), Henko van Wyk en Megan Frost (albei Curro Langebaan).

You need to be Logged In to leave a comment.