Die moontlikheid bestaan dat die eiendomsagent van Langebaan, wat teregstaan op 16 aanklagte van bedrog, alternatiewelik diefstal weens beweerde bedrog met vakansieverblyf, skuld sal beken om ’n swaar vonnis vry te spring.
Indien die pleitonderhandelinge met die staat, wat tans aan die gang is, nie vir Mandy Wood uitwerk nie, sal die staat vir tronkstraf in ’n strafregtelike hofsaak vra.
Talle vakansiegangers beskuldig Wood daarvan dat sy hul geld gesteel het (“Nog klagtes teen eiendomsagent”, Weslander, 23 Januarie). Wood het na bewering sowat R270 000 vir Weskus-vakansieverblyf tussen Dinsdag 24 Desember 2024 tot Vrydag 25 Januarie vanjaar, in haar sak gesteek.
Wood het aanvanklik aangedui dat sy “per ongeluk” die klaers “dubbeld” vir vakansieverblyf bespreek het en hulle voor dooiemansdeur laat beland het.
Hulle het deur Wood vakansieverblyf op verskeie platforms soos Facebook bespreek.
Wood het haar “vakansie-akkommodasies” op Facebook-bladsye soos Western Cape Coastal Holiday Bookings, Mandy Wood Properties en Mandy Wood Guesthouses and Property Management adverteer.
Volgens Dolf Nel, die staatsaanklaer, het Wood weer op Donderdag 23 Januarie in die Hopefield-landdroshof verskyn waar sy haar aansoek om borgtog laat vaar het.
Wood word steeds in die Pollsmoor-vrouegevangenis aangehou, waar sy haar sedert haar inhegtenisneming by die Langebaan-polisiekantoor op Maandag 30 Desember verlede jaar bevind.