Vanjaar is geskiedenis in Langebaan gemaak met die heel eerste amptelike interskolebyeenkoms wat tussen twee laerskole van die dorp gehou is.
Dis in 2018 amper ondenkbaar dat Langebaan kort voor die draai van die 21ste eeu net een staatskool gehad het.
Weens die dorp se snelgroeiende bevolking die afgelope twee dekades het drie bykomende private spogskole hul deure geopen en floreer.
En tussen hierdie skole het natuurlik ’n gesonde kompetisiegees ontstaan en ’n behoefte aan ’n lekker plaaslike skole-derby.
Dit was dus g’n wonder dat die eerste interskolebyeenkoms tussen Topolino Privaat en Longacres Privaat (28 Mei tot 1 Junie) so goed ontvang is nie.
Die skole het teen mekaar in rugby, netbal, hokkie, skaak, kuns, kultuur, golf en landloop meegeding.
Topolino het die byeenkoms gewen, maar die skoolhoof, Berdine Smit, sê hul mikpunt was nie oorwinning nie.
“Ons uitgangspunt was deelname, karakter bou en liggaamlike en emosionele groei. Ons het hierdie geleentheid met groot entoesiasme aangepak en salueer elke onderwyser en onderwyseres wat tot die geleentheid bygedra het,” het sy bygevoeg.
Jurgens Schreuder, skoolhoof van Longacres, het op sy beurt gesê hy hoop hierdie spesiale gebeurtenis waar baie besondere herinneringe op die sportveld gemaak is, sal “van krag tot krag gaan”.
“Ons ouer garde weet heel moontlik wat dit beteken om aan ’n interskole of local derby deel te neem, maar vir die kinders was dit ’n nuwe ervaring en – mag ek byvoeg – een waarna almal met groot opgewondenheid uitgesien het.”
Schreuder en Smit het die borge, ouers, vrywilligers en leerders vir hul bydrae en samewerking tot hierdie uiters suksesvolle geleentheid bedank.
Só lyk die uitslae:
. Topolino het stof in die oë van Longacres se landloopatlete geskop en ook die hokkie-afdeling gewen.
. Topolino het die meeste balle deur die doelnette gesit en die o.8-, o.9-, o.12- en o.13-netbalwedstryde gewen. Die o.10-spanne het gelykop gespeel.
. Die rugbyspanne het gelykop geëindig met Longacres wat die o.7- en o. 8-wedstryde gewen het.
. Die o.9-rugbyspanne het in ’n taai wedstryd gelykop gespeel, waarna Topolino die o.11- en o.13-rugbywedstryde gewen het.
. Topolino het die sporttrofee gewen terwyl die kultuurtrofee deur die twee skole gedeel is.