Eenvoudige plan met seep lei tot groot onderneming

’n Eenvoudige plan om haar dogter met haar ekseem te help, het só uitgebrei dat Marice Mercuur nou die Wes-Kaapse beste vroue-entrepreneur is.Mercuur, van Clanwilliam, het in 2014 begin eksperimenteer met rooibos en seep om iets te vind wat haar dogter se ekseem sou help.


’n Eenvoudige plan om haar dogter met haar ekseem te help, het só uitgebrei dat Marice Mercuur nou die Wes-Kaapse beste vroue-entrepreneur is.Mercuur, van Clanwilliam, het in 2014 begin eksperimenteer met rooibos en seep om iets te vind wat haar dogter se ekseem sou help. “Ek het met gliserine-seep en rooibostee begin eksperimenteer.

Ek was verbaas oor die resultate aangesien die rooibos-seep my dogter se vel dadelik verbeter het. Sy het beter gelyk en kort daarna het my hele gesin die rooibos-seep begin gebruik,” vertel sy.Sy het twee jaar later, met haar rooibos-seep wat só gewild was, ’n volwaardige sakeonderneming begin.Vandag vervaardig Marice Skin gesondheids- en skoonheidsprodukte wat oor die Weskus beskikbaar is. 

Benewens haar wenresep vir seep, vervaardig sy ook lipbalsem, velsorgprodukte asook liggaamsbotter.Mercuur sê ten spyte van haar sukses is daar vele struikelblokke om vir jouself te werk. “Om ’n onderneming te begin, verg baie, baie opoffering en ’n dik vel – dit is veral vir vroue, wat dikwels ook na die kinders moet omsien, ’n groot uitdaging,” verduidelik sy.Sy meen enigeen wat daaraan dink om ’n entrepreneur te word, moet seker maak hulle het mense wat hulle ondersteun. Daarmee saam moet entrepreneurs weet waarvoor hulle hul inlaat, en sy raai nuwe sakelui aan om hulself genoeg tyd te gee wanneer die taaier tye kom.“Dis baie maklik om ’n onderneming te bestuur wanneer dit goed gaan, maar in die moeilike tye, soos toe Covid-19 alles tot stilstand gebring het, gaan dit maar rof. Moenie opgee nie en luister na diegene wat al daardie moeilike pad gestap het,” raai sy aan. Mercuur se harde werk het egter onlangs vrugte afgewerp toe sy met die ministeriële spesiale eerbewys vir die jeug by die Wes-Kaapse kompetisie vir vroulike entrepreneurs ontvang het.Dr. Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, meen meer ondernemings soos dié van Mercuur kan by ondersteuningsprogramme baat.

“Ons moet ’n omgewing skep waarin landbou-ondernemings kan vorder. Die departement se marktoegangsprogram ondersteun entrepreneurs, soos Mercuur, met dienste wat fokus op markgereedheid en -nakoming, marktoegang, produkpromosies en ondersteuning vir die ontwikkeling van landbou-ondernemings,” verduidelik hy.Mecuur sê sy glo die prys het haar vertroue in die toekoms van haar onderneming versterk: “Ek was op ’n tydstip waar ek met die pad vorentoe en wat die toekoms sou inhou, geworstel het.

Ek is oneindig dankbaar vir die department en die ondersteuning wat hulle my gegee het. Dis nog ’n lang pad tot sukses, maar ek is gereed en vol woema om tot die volgende vlak te gaan.”Sy sê haar grootste struikelblok is die bemarking van haar produkte en die administratiewe take wat met ’n onderneming gepaard gaan. “Omdat ek ’n introvert is, is veral bemarking my grootste struikelblok. Ek is gelukkig om familie te hê wat my in daardie aspekte ondersteun. ’n Mens moet alle raad en hulp wat jy kan kry, gebruik,” sê Mercuur.Haar vooruitsig vir haar onderneming is nou om dit uit te brei na ’n selfonderhoudende, stabiele sakeonderneming wat waarde tot mense se lewe voeg. “Ek sal graag my reekse wil uitbrei, maar ek moet eers my huidige sake reg verstaan en daarop kan voortbou. Ek wil nie net in die res van Suid-Afrika uitbrei nie, maar ook internasionaal.” 

You need to be Logged In to leave a comment.