Edrich laat nie toe dat blindheid hom terughou

Al ooit die Vredenburg-polisie­kantoor gebel en gewonder aan wie die vriendelike, behulpsame stem aan die anderkant van die gehoorstuk behoort?.


Al ooit die Vredenburg-polisie­kantoor gebel en gewonder aan wie die vriendelike, behulpsame stem aan die anderkant van die gehoorstuk behoort?

Dit is die stem van die 41-jarige Edrich Wanneburg, Vreden­burg-polisie se blinde skakelbord­operateur vir die afgelope agt jaar.

Dié pa van twee dogters is deur sy kollegas genomineer as Weslander se Weskusser van die Week.

Edrich is ’n boorling van Velddrif en woon nog steeds hier saam met sy vrou, Mercia, en hul twee dogters.

Hy het in 1994 in Bellville matriek geskryf en het daarna as ’n kliëntediens­konsultant in Johannesburg gaan werk.

Edrich het eers in 2005 blind geword as gevolg van komplikasies reeds met geboorte – ’n teer saak waaroor hy eerder nie wil uitbrei nie.

In 2007 het hy by die polisie aangesluit as skakelbordoperateur en in 2009 is hy verplaas na die Vredenburg-polisiekantoor.

Om vir ’n blinde persoon te vra, wat sy grootste uitdaging is, is ’n onbillike vraag maar een wat Edrich maklik beantwoord.

“Enige iets wat mense vir my sê ek nie kan doen nie, maak ek my missie om te kan doen.”

Tot baie se verbasing doen Edrich ook nog sy eie voertuig se diens en daarby is hy ook ’n bobaas kok. Sy gunstelingetes om voor te berei is kerrie­geregte en hy hou van braai.

“Hoe weet jy wanneer die vleis gaar is?” vra ek.

“Ek proe maar gereeld aan die vleisie,” kom die antwoord.

Volgens kollegas wat jare saam met hom ’n kantoor deel, kan jy nie vir Edrich probeer skrikmaak nie – sodra jy die kantoor binnestap, weet hy presies wie daar is.

En sou ’n persoon sukkel met die fotostaatmasjien of ’n rekenaar­­program, is hy gou by om die probleem op te los.

Dit is ook nie vir Edrich ’n probleem as sy kollegas hom by tye alleen in die kantoor laat nie – hy help die publiek en/of polisielede op ’n baie geduldige en professionele wyse.

Benewens sy baie talente is Edrich ook ’n kranige skaakspeler – hy was tot in matriek ’n lid van die Westelike Provinsie se skaakspan.

Hy het homself ook leer kitaar speel. Hy het glo ’n bietjie gesukkel om die klawerbord te leer speel, maar vertel hy het met God gepraat en vir Hom gesê dat hy net vir Hom sal speel as Hy hom sal wys hoe.

Nou speel hy net Christelike liedere. Edrich speel die klawerbord vir die Open Heart Ministries in Velddrif.

Edrich gesels graag met sy kollegas oor rugby en ander sportbedrywighede en hy “wys” tot foute uit – iets wat ander toeskouers dalk gemis het.

“Ek is baie onafhanklik en wil nie graag ander vra om vir my goed te doen nie. Die lewe skuld my niks, daarom hou ek nie daarvan om bejammer te word nie.”
. Nomineer ’n Weskusser van die Week deur ’n kort e-pos met ’n kort opsomming en kontak­besonderhede van die persoon na joline.vdmerwe@media24.com te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.