Daar was in Augustus meer as 3 000 lyke in staatslykhuise oor Suid-Afrika heen wat nie deur familie of vriende opgeëis is nie.
’n Onlangse data-insameling deur die nasionale gesondheidsdepartement wys dat daar in Augustus 3 186 lyke in 133 lykshuise was wat nie opgeëis is nie.
Volgens die departement se komitee vir forensiese patologie is hierdie lyke al vir tussen vyf maande en drie jaar onopgeëis.
Die komitee se verslag is saamgestel uit data van die Nasionale Vervolgingsgesag, die polisie en staatslykhuise.
Die twee provinsies met die grootste probleem is KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.
Volgens die komitee is daar drie faktore wat daartoe lei dat lyke nie geëien word nie: Uitdagings in gemeenskappe, probleme by die inrigtings self en probleme op ’n munisipale en/of provinsiale vlak.
Uitdagings in die gemeenskap verwys na wanneer lyke sonder enige identifikasiedokumente by die lykshuise aankom, familielede nie na die oorledenes soek nie, of wanneer hulle wel uitgeken is, die lyke nie opgeëis word nie.
Probleme
By die inrigtings waarheen die lyke geneem word, is daar dikwels probleme met die identifikasieproses deur DNS-toetse omdat werknemers nie voldoende toerusting of opleiding ontvang het om die toetse te behartig nie.
Op ’n provinsiale en/of munisipale vlak gebeur dit soms dat daar nie toegekende plekke in begraafplase beskikbaar is vir die lyke om begrawe te word nie, of die oorledenes is buitelanders wat nie geïdentifiseer kan word nie.
Volgens die komitee kan baie van hierdie lyke nie begrawe of veras word voordat dit duidelik is dat die identiteit van die oorledene nie bevestig kon word nie.
Die VF Plus het intussen sy kommer uitgespreek en meen dit plaas groot druk op die bestaande geriewe.
Philip van Staden, ’n VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor gesondheid, sê in ’n verklaring afgesien van die kwessie van gebrekkige identifikasie en naasbestaandes wat bloot nie die oorskot opeis nie, dra onwettige immigrante wat nie geïdentifiseer kan word nie, verder tot die probleem by.
“Ander faktore is die agterstand en vertraging in die vervoer en ontleding van DNS-monsters, swak gehalte vingerafdrukke, uitstaande ondersoeke, korrupsie waar naasbestaandes moet betaal om gestorwenes te kry, uitstaande toksikologiese verslae, die vertraging in begrafnisse en verassings weens ’n tekort aan grafruimte, begrotingstekorte en krematoriums wat nie voldoende funksioneer nie.
“ ’n Kerntaakspan sal onverwyld op die been gebring moet word tussen die regering en rolspelers in dié bedryf om die probleme daadwerklik te behandel. Dit is reeds ’n krisis en kan nie gelaat word om te vererger nie.
“Die bevolking groei snel, misdaad neem toe en die vermoë by hierdie instellings raak toenemend ontoereikend. Dit lyk tans of gesprekke en samewerking tussen die regering en die betrokke rolspelers nog nie ’n oplossing kon vind nie,” meld van Staden verder.
Digitaal
Hy sê van die oplossings wat die VF Plus voorstel, is die implementering van ’n digitale vingerafdrukstelsel wat kan help met die identifisering van oorledenes wat by staatslykhuise aankom.
“Samewerking moet formeel geskied tussen die nasionale regering, rolspelers in die begrafnisbedryf, die departemente van samewerkende regering en tradisionele sake, binnelandse sake en gesondheid, die polisie, die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens asook provinsiale en plaaslike regerings.
“Laasgenoemde is waar die probleem eindelik lê aangaande krematoriums en onvoldoende grafruimte.
“Die opleiding van forensiese beamptes is ook noodsaaklik en die regering van nasionale eenheid (RNE) sal bestaande wetgewing in hierdie verband moet aanpas.
“Bestaande staatslykhuise en krematoriums moet dringend gemoderniseer word en nuwes moet gebou word. Meer grafruimte sal beskikbaar gestel moet word en daar sal op nasionale vlak gehelp moet word met begrotingstekorte vir die instellings.”
Van Staden sê daadwerklike optrede teen korrupsie is nodig en alternatiewe metodes sal in gebruik geneem moet word om oorskotte te begrawe.
“Die VF Plus sal, soos die afgelope vyf jaar, voortgaan met voortdurende gesprekke met rolspelers in die begrafnisbedryf en private forensiese bedryf. Die situasie kan doodeenvoudig nie voortgaan soos wat tans die geval is nie.”