Saldanha se lot is nou in sy eie hande. Die voormalige Boland-kampioen, wat tans derde in groep B is en een punt agter Robertson en drie agter die onoorwonne Safcol is, reis dié naweek na Robertson vir ’n reg-of-weg- wedstryd vir die span.
Saldanha, wat ná sy omstrede nederlaag in sy eerste wedstryd teen Safcol karakter en veggees getoon het, het Saterdag Ceres in dié se agterplaas 30-49 geklop om sy hoop op die kampioenskap lewend te hou.
Saldanha, wat Saterdag Robertson moet klop, sal dan in sy laaste wedstryd Darling se melkboere pak.
Die veldtog van Vredenburg se Burg Boys het Saterdag ’n knou gekry toe die span op sy tuisveld 30-31 teen Villa vasgeval het. Vredenburg sal nou hoop dat een van die twee voorste spanne albei hul laaste twee wedstryde verloor, maar dan sal die span van Ryno Benjamin oortuigende oorwinnings moet behaal.
Vredenburg, die Weskus- kampioen, onthaal die naweek die Swartland-kampioen, Abbotsdale. Benjamin se troepe sal hul hand hoog moet opsteek om hul statistiese kans lewend te hou. Abbotsdale sal ook verlore aansien ná sy laasteminuut-nederlaag teen Newtons wil herwin, terwyl Vredenburg se Burg Boys weet die agterdeur is steeds oop.
Abbotsdale en Darling kan nie meer die uitspeelwedstryde haal nie. Die twee Swartlandspanne het die naweek byna die onmoontlike vermag toe Darling Safcol in Grabouw tot in die laaste minuut in toom gehou het. Die melkboere se dissipline het die appelboere die wedstryd in die laaste minuut met ’n strafskop laat wen.
Abbotsdale, wat Roses klippe laat kou het, wonder steeds hoe hy die wedstryd op ’n skinkbord aan die besoekers gegee het. Die laaste aangee van die wedstryd in die besoekers se kwartgebied is deur die besoekers onderskep en die tuisspan se uitspeelkans was ook daarmee heen.
Volledige uitslae:
Caledon 61-17 Vanrhynsdorp Eagles; Young Spurs 38-36 Robertson; Ceres 30-49 Saldanha; Vredenburg 30-31 Villagers.
Die naweek: Newtons t. Vanrhynsdorp Eagles; Worcester Villagers t. Caledon; Safcol United t. Young Spurs; Vredenburg t. Abbotsdale; Robertson t. Saldanha; Darling t. Ceres.