Die druk op die kragnetwerk was teen Dinsdagmiddag “baie” erg.
Eskom waarsku Dinsdagmiddag dat sake al hoe slegter lyk. Dit volg nadat hy reeds Maandagaand gewaarsku het hy het probleme. Hy herhaal Dinsdag sy vorige waarskuwing in ’n verklaring wat op Twitter gelaai is dat hoewel hy nie verwag om beurtkrag in te stel nie, die netwerk tot Donderdag “erg” onder druk gaan wees.
Die kragvoorsiener sê van sy eenhede het oor die naweek “onverwags” onklaar geraak en dat dit die rede vir die hernude druk is. Eenhede wat onbepland onklaar raak, is veel meer as die kritieke vlak van 9 500 MW en noodsaak dus die “uitgebreide gebruik” van noodhulpbronne soos water en diesel. Luidens die verklaring het eenhede wat onbepland onklaar geraak het, vroeg Dinsdagoggend 12 500 MW oorskry.
Dit het teen 10:00 Dinsdag glo weer tot 10 500 MW gedaal. Dit is egter steeds hoër as wat Eskom as “die kritiese vlak” beskryf.
Eskom vra dat mense elektrisiteit spaarsamig moet gebruik. Die waarskuwing volg kort op die vyf dae van beurtkrag wat die land in Oktober geteister het. Toe het vyf van sy eenhede onklaar geraak. – Elvira Wood, Die Burger