Die tyd het weer aangebreek vir Afrikaans.com se droomgroot-talentkompetisie vir alle hoërskoolleerders (graad 8 tot 12) – #droomgroot18. Die kompetisie vind van 1 Julie tot 30 September plaas.
#droomgroot18 is die kans waarop jy gewag het om jou talent met ander te deel en boonop dalk R10 000 te wen.
As jy dus daarvan droom om jou talent te ontwikkel en die prysgeld goed sal kan gebruik om so ’n stappie nader aan jou droom te kom, dan is #droomgroot18 net die kompetisie vir jou.
Wat ook al jou talent, of dit sing, dans, kletsrym, gedigte skryf en/of opsê, of kitaar speel is, deel dit met ons – solank dit in Afrikaans is.
Meer oor verlede jaar se wenner:
Verlede jaar se wenner van #droomgroot17, Ashaan Arries, het met sy kletsrym-inskrywing bewys dat drome waar kan word ondanks ’n mens se omstandighede . . . solank jy nooit ophou droom nie. Ashaan het sy wengeld gebruik om basiese toerusting aan te koop om hom te help om sy kletsrymliedjies te skryf en op te neem. Hy is boonop ook deur HemelBesem onder sy vlerk geneem. Sê Ashaan: “My verlede bepaal nie my toekoms nie. Wel harde werk en geloof in myself . . . om nooit op te hou droom nie.”
Wat jy moet doen om deel te neem:
- Jy MOET ’n hoërskoolleerder wees – graad 8-12.
- Jou inskrywing MOET in videoformaat wees.
- Jou inskrywing MOET op sosiale media (Facebook of Instagram) gelaai word, of vir ons op Whatsapp gestuur word na: 064 652 6873.
- Die hutsmerk #droomgroot18 MOET jou inskrywing vergesel.
- Jy MOET Afrikaans.com tag.
- Jou inskrywing MOET ons voor of op 30 September 2018 bereik.
Maar . . . die heel belangrikste: Jy MOET deelneem.
Hoe die wenner bepaal word:
’n Span beoordelaars kyk die video’s en kies finaliste. Elke finalis sal dan gevra word om vir ons te skryf en meer te vertel van sy/haar droom en hoe hy/sy die prysgeld wil gebruik om nader aan sy/haar droom te kom (bv. om ’n musiekinstrument te koop, ’n rekenaar aan te skaf, om in te skryf vir ’n kort musiek- of skryfkursus, ens.)
Nadat almal se motiverings oorweeg is, word die groot wenner gekies en ontvang dan die R10 000-prysgeld wat namens hom/haar aangewend sal word.
Vir meer inligting of navrae, stuur e-pos aan: Ingrid Erlank, Redakteur: Afrikaans.com, E-pos: ingrid@afrikaans.com.