Tussen Saterdag 26 en Dinsdag 29 Julie is drie vroue in Vredenburg aangeval.
Volgens Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is ‘n 31-jarige vrou van Betterlife Saterdag in Vredenburg in haar salon deur ‘n onbekende man oorval.
“Die man het die vrou met ‘n vuurwapen gedreig. Hy het haar van haar selfoon beroof en gevlug. ‘n Sakeroof word ondersoek.”
Nog ‘n voorval het op Sondag 27 Julie plaasgevind toe nog ‘n 31-jarige vrou in die skouer geskiet is in Kanzistraat,Vredenburg. “Die slagoffer het ‘n emmer water buite uitgegooi toe sy gekonfronteer is deur ‘n onbekende man, geklee in ‘n pienk japon en met ‘n serp oor sy gesig. Die verdagte het op die slagoffer gevloek toe sy wegloop, waarna hy haar in die skouer gewond en gevlug het.”
In die vroëe oggend-ure van Dinsdag 29 Julie omstreeks 03:20 het sewe verdagtes die deur van ‘n 63-jarige vrou in Adelaarstraat, Witteklip, afgeskop. “Terwyl sy op die foon was met die polisie, het die verdagtes een skoot gevuur en haar beroof,” het Helfrich gesê.
Volgens Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsleier en aktivis, is daar baie voorvalle wat nie gerapporteer word nie. “Ons hoef nie meer stil te bly nie en ons hoef nie meer hulpeloos te voel nie. Ons moet begin om die polisie te vertrou. Kennis is krag. As ons die gemeenskap toerus met die kennis van dié soort dinge, en hulle bemagtig deur hulle deur hierdie prosesse te lei, dan kan ons help om vertroue in ons wetstoepassingsagentskappe te herstel.”
Van Wyk meen die oorlog teen misdaad kan gewen word, maar vertroue moet eers herstel word sodat die slaggoffers veilig sal wees.


