Drie voor oor Noordhoek-roof

Die polisiesersant van Saldanha wat na bewering betrokke was by die noodlottige sakeroof in Velddrif het op Maandag 23 September saam met twee mans, wat vroeër die maand in Klapmuts met ’n ongelisensieerde vuurwapen betrap is, in die hof verskyn.


Die polisiesersant van Saldanha wat na bewering betrokke was by die noodlottige sakeroof in Velddrif het op Maandag 23 September saam met twee mans, wat vroeër die maand in Klapmuts met ’n ongelisensieerde vuurwapen betrap is, in die hof verskyn.

Zola Bapeti (48) het saam met Lindile Swartbooi (59) en Xolisane Mphontshane (43) in ’n spesiale hofsitting in die Laaiplek-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord, sakeroof en afpersing.

Hul formele aansoek om borgtog was nog teen die koerant se druktyd op Woensdag 25 September aan die gang.

Dit hou verband met ’n gewapende sakerooftog op Maandag 9 September by die Miki-Velddrif-supermark in Noordhoek, waarin Yassin Mphona (35), ’n boorling van Malawi, doodgeskiet en Herman Baumeester (51), ’n plaaslike visserman, in die rug gewond is.

Bapeti is ná die rooftog vasgetrek weens sy wit Toyota Avanza wat na bewering in die rooftog gebruik is.

Met die nagaan van die registrasienommer wat wyd op sosiale media versprei is, het die polisie besef dat dit aan Bapeti behoort.

Die motor is na wat vertroulik verneem word glo by sy huis gekry.

Bapeti is op Vrydag 13 September by ’n Vredenburgse supermark in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief vir inhegtenisneming verkry is.

Mphona was een van drie werkers wat die oggend omstreeks 10:00 besig was om in “Die Blou Winkel” op die hoek van Tulp- en Vuurpylstraat te werk toe gewapende rowers hulle oorval het. Almal is gedwing om op die grond te lê en geld is uit die kasregister gehaal.

Die rowers het beskermingsgeld van die winkeleienaar geëis.

Baumeester het die winkel ingekom om goedere te kom haal en is in die rug geskiet toe hy by die deur omgedraai en probeer vlug het. Hy sterk steeds in die Groote Schuur-hospitaal aan.

Mphona is koelbloedig doodgeskiet daar waar hy gelê het, waarna die rowers met geld en selfone in die wit Avanza gevlug het.

Skaars twee dae voor dié voorval is ’n winkel in Laingville, St. Helenabaai, ook geroof. Twee gewapende rowers het ’n 25-jarige winkeleienaar Saterdagaand 7 September in sy winkel in Ericastraat van R9 000 beroof en gevlug.

Enigeen met meer inligting oor hierdie rooftogte kan die ondersoekspan by 082 607 6481 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.