Foto ter illustrasie. Foto: Reuters


Drie amptenare van die Matzikama-munisipaliteit staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie wat spruit uit beweerde bedrieglike transaksies.

André Dirkse is as bestuurder van beskermingsdienste by die Cederberg-munisipaliteit aangestel nadat hy in 2018 as senior verkeersbeampte by die Matzikama-munisipaliteit ontslaan is. Hy is egter intussen by Cederberg geskors ná ’n interne verhoor en staan saam met nog ’n munisipale amptenaar van Matzikama, Rayven Karstens, tereg op die bedrog- en korrupsie-aanklagte.

Hulle het Maandag (20 November) weer in die streekhof in Vredenburg verskyn, waar landdros Da-Rocha Boltney haar van die saak verskoon het. Sy het aangevoer dat sy nie twee sake met dieselfde getuies kan aanhoor nie.

In die tweede saak waarin sy optree en waarvan die verhoor reeds aan die gang is, word André Wiid, die verkeersuperintendent by die Matzikama-munisipaliteit, ook van bedrog en korrupsie aangekla.

Wiid, wat voorheen by die provinsiale verkeersafdeling in Vredenburg gewerk het, word daarvan beskuldig dat hy onregmatig twee rybewyse teen betaling toegeken het.

Die verhoor gaan Woensdag 29 November voort.

Albei sake draai al vyf jaar in die hof.

Die polisie se eenheid vir ondersoeke na prioriteitsmisdaad, die Valke, het Dirkse, Rayven en Wiid reeds in 2018 weens die beweerde bedrog en korrupsie in hegtenis geneem en borgtog is destyds aan al drie toegestaan.

Die staat glo sy bewyse dui daarop dat Karstens en Dirkse saamgespan het om padwaardig­heidsertifikate teen betaling aan kliënte te verskaf.

Dirkse en Karstens het Maandag vlugtig in die hof verskyn voordat die saak tot Maandag 29 Januarie in die streekhof in Vredendal, waarheen die saak geskuif is, uitgestel is.

Hul verhoor het nog nie begin nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025