Drie mans is die afgelope naweek doodgeskiet en twee beseer in wat as ’n nag van verskrikking in Saldanha beskryf kan word.
Die bloedspoor het Saterdag (26 Oktober) omstreeks 22:20 begin, toe Jonathan “Nicky” Struis (40) op die hoek van Katonkel- en Mayflowerstrate in Diazville doodgeskiet is.
Sy familie vertel dat sy meisie haar ná die eerste skoot tussen hom en sy aanvaller ingedruk het, maar Jonathan het haar eenkant toe gestoot, waarop hy nog twee keer geskiet is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, het sy aanvaller hom in die bors en rug geskiet, waarna hy op die toneel oorlede is.
Minder as ’n uur ná Jonathan se skietdood, omstreeks 22:55, is op vier mans in Vraagomstraat losgebrand.
’n Gewonde Edwin January (46) is in die Vredenburg- provinsiale hospitaal oorlede en mediese personeel het Emile Ackers (23), wat met ’n private voertuig na die Saldanha-polisiekantoor gebring is, daar dood verklaar.
Twee dertigjarige mans wat ook in die skietvoorval gewond is, het mediese behandeling by die hospitaal ontvang.
Dit is vir Jonathan se familie baie swaar, want sy neef, Bertram “Thabo” Pietersen (38) is Sondag 1 September, minder as twee maande gelede, met drie skote in Murraystraat afgemaai.
Die familie is nog in rou oor sý dood en nou moet hulle ook Jonathan se dood verwerk.
Hulle vertel dat Jonathan homself in elk geval nie sou kon teësit nie, want hy is kort vantevore in ’n boendoehof in Middelpos erg beseer.
Hy het gebreekte bene en ’n arm in gips gehad.
Jonathan het die betrokke dag Middelpos toe gegaan om sy hare vir Bertram se begrafnis te laat sny.
“Hulle was maar stout van jongs af; ons kan nou nie doekies daarom draai nie,” het Dina Adams (61), Jonathan se niggie, gesê.
“Hulle het dinge gedoen, maar hulle het nie mense seergemaak nie.”
Die twee neefs, wat op skool kranige sokkerspelers was, het albei al tronkstraf uitgedien.
Vir ’n doodgewone familie om egter drie begrafnisse só kort na mekaar te moet betaal, is baie moeilik – Dina het ook haar suster, Joslin Dabula (44), op 11 September begrawe. Sy het aan tuberkulose gesterf.
“Die geweld hou nie op nie. Ons gemeenskap kan nie so aangaan nie,” het Dina, wat op die Saldanha-gemeenskapspolisiëringsforum dien en ook die Tabakbaai-buurtwag se voorsitter is, gesê.
Jonathan en Bertram se ontstelde moeders, Jackie Struis (51) en Maria Petersen (82), is nou sonder hul seuns. Jonathan het graag vir Jackie in die tuin gehelp en was die stil en ernstige een van die twee neefs.
“Dis swaar om met dié dubbele, eintlike drievoudige, tragedie vrede te maak.”
Die familie weet nie wat die motief vir die moorde was nie, maar hulle is dit eens dat dit nié roof was nie, want die aanvallers het niks gebuit nie.
Niemand is nog vir Bertram se moord in hegtenis geneem nie, wat die familie tot die uiterste frustreer en hulle skepties laat oor die moontlikheid dat Jonathan se moordenaar aangekeer gaan word.
“Dit maak seer dat niemand nog vir die moord aangekeer is nie.”
Volgens Dina is mense te bang om helderoordag van Diazville na White City te stap, omdat hulle nie van hul selfone en beursies beroof wil word nie.
“Die polisie sal moet ingryp en die gemeenskap sal moet begin práát. Ons gemeenskap verdien ’n beter Diazville.”
Die familie waardeer wel ’n besoek van ’n groep raadslede van verskillende partye opreg en bedank hulle vir die belangstelling en elke handdruk.
Helfrich het bevestig dat niemand nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem is nie.