Die getal bedrogsake teen Mandy Wood (52), ‘n voormalige eiendomsagent van Langebaan, kom al op 19 te staan. Wood word daarvan aangekla dat sy verskeie gesinne, wat daarna uitgesien het om in Desember 2024 in die Weskus te kom vakansie hou, uit altesaam R290 000 gekul het.

Wood het al verskeie kere in die Hopefield-landdroshof verskyn en is op Dinsdag 18 Maart borgtog toegestaan.

Weslander het op Donderdag 15 Mei berig oor ‘n tweede Langebaanse vrou, Stephanie Olivier (57), wat in Kathu in die Noord-Kaap en in die Gautengse hooggeregshof teregstaan op aanklagte van swendelary en bedrog (“Vals regsman en rekenmeester vas“).

Olivier is een van nege beskuldigdes in die Shepherd Bushiri-hooggeregshofsaak wat wêreldwyd opslae maak. Sy staan ook in die Kathu-landdroshof tereg op ‘n string aanklagte van bedrog saam met Fred Enslin (51), ‘n vals regspraktisyn. Die klagtes teen Olivier en Enslin (51) hou verband met die Enslin Olivier Ingelyf-“regspraktyk”, wat hulle in Oostewalstraat, Langebaan, bedryf het.

Nóg ‘n vrou van Langebaan, Ronel Jonker, staan in die Hopefield-landdroshof ook tereg op verskeie aanklagte van vakansiebedrog. Die verhoor begin later vandeesmaand – op Dinsdag 17 Junie.

In Wood se geval het negentien gesinne van oral in die land in Desember 2024 met hul aankoms by hul droomverblyfplekke in die Weskus, waarvoor hulle reeds betaal het, uitgevind dat iemand anders reeds in die vakansieplekke is, of Wood het die verblyf op die nippertjie gekanselleer omdat sy glo per ongeluk ‘n dubbele bespreking gemaak het.

Wood het op verskeie Facebook-bladsye – Western Cape Coastal Holiday Bookings, Mandy Wood Guesthouses and Property Management en Mandy Wood Properties – die gesogte vakansieverblyf-tydgleuwe vir tussen Dinsdag 24 Desember 2024 en Vrydag 25 Januarie 2025 geadverteer.

Volgens die regulerende owerheid vir eiendomspraktisyns (PPRA) is Wood slegs as ‘n internskap-eiendomsagent by Stephanie Leeds Properties in Boksburg geregistreer.

Wood is – voordat borgtog in Maart toegestaan is – in die Pollsmoor-gevangenis se vroue-afdeling aangehou nadat sy op 30 Desember 2024 by die Langebaan-polisiekantoor in hegtenis geneem is.

Volgens Dolf Nel, die staatsaanklaer, verskyn Wood weer op Dinsdag 5 Augustus in die Hopefield-landdroshof. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.
Olivier en Enslin is op Vrydag 9 Mei borgtog van R100 000 elk toegestaan en verskyn weer op Vrydag 4 Julie in die Kathu-hof. Die Gautengse hofsaak sal voortgaan wanneer Bushiri en sy vrou, Mary, terug is in Suid-Afrika.

You need to be Logged In to leave a comment.