Die Klawer-polisie het drie verdagtes weens ’n huisrooftog op Dinsdag 1 Oktober in Riemvasmaak in Klawer aangekeer.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, is Karel Bocks (39), Albertus Jacobs (29) en Sibusiso Mngqingo (39) in hegtenis geneem nadat ’n 39-jarige vrou ’n klagte van huisrooftog aangemeld het.
Die vrou het gedurende die rooftog een van die verdagtes se stem herken toe hulle haar om 02:10 wakker gemaak het deur aan haar deur te klop.
Hulle het haar gedreig, waarop sy die deur oopgemaak het. Hulle is met haar 9 kg-gasbottel, selfoon en bankkaarte weg.
Die drie verdagtes het Donderdag 4 Oktober vlugtig in die Klawer-landdroshof verskyn. Bocks en Jacobs het verskeie vorige skuldigbevindings teen hulle, wat misdade soos diefstal, aanranding en gewapende roof insluit.