Die vragmotor was glo vanuit Moorreesburg met bale voer onderweg. Volgens Hopefield-polisie is January, Siphosethu Nama en nóg ’n kollega wat in die motor was, werkers van ’n maatskappy wat deur die myn gekontrakteur is. Nama en die ander kollega het ligte beserings opgedoen.Kaptein Gotlieb Adams, stasiebevelvoerder by Hopefield, sê Nama se nek het seergekry terwyl haar kollega se rug seergekry het, maar beide is later die middag vanuit die hospitaal ontslaan. January, wat van Kuilsrivier is, se familie is reeds in kennis gestel.
In ’n afsonderlike voorval het ’n negejarige meisie Donderdag 10 November in ’n swembad in Tuinstraat verdink. Die kind, Daneeka Lewis, het glo saam met vriende geswem toe sy verdrink het.
Adams sê ’n ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal wat presies gebeur het en dat ’n nadoodse ondersoek ook gedoen sal word. “Die kinders swem gereeld by die swembad. Daagliks is die plek vol kinders, sonder enige ouertoesig. Ons wil ouers en grootmense maan om saam met hul kinders te gaan of om andersins hul kinders daar weg te hou,” sê Adams.
Laat Donderdagmiddag is nóg ’n kind beseer toe hy en ’n vriend op ’n vierwielmotorfiets in die dorp gery het. Die seun het glo afgeval en ernstig seergekry. Min detail is in die stadium bekend, maar hy is na ’n Kaapse hospitaal geneem vir verdere behandeling.