Sondagmiddae is Vredenburg se middedorp stil. So ook op Oujaarsdag, 31 Desember 2023, toe die Pick n Pay by die Ipic-sentrum omstreeks 15:00 toegemaak het.

Emil Cordier, ’n tatoeëerkunstenaar van Vredenburg wat die dag vantevore 28 jaar oud geword het, het waarskynlik rondom dié tyd die winkel verlaat en met sy sak inkopies koers gekies om vermoedelik geld te gaan trek.

Hy het teen die opdraande uit verby die Weskem-apteek gestap. By een van die palms voor die apteek in Hoofstraat het ’n gewapende rower hom met ’n mes aangeval en van sy selfoon beroof.

Volgens Emil se sussie, Sara Cordier (37), wat by ’n plaaslike hardewarewinkel werk, het Emil sy aanvaller, vermoedelik Mayrick Snyders (31), ook bekend as “Gaatjies”, agternagesit. Iewers het hy sy sak inkopies op die sypaadjie neergegooi.

Omstanders het aan Sara vertel dat Emil op Snyders geskree het om sy selfoon terug te gee. Hy het sy aanvaller verby African Bank oorkant die Caltex-vulstasie gejaag, maar skielik tot stilstand gekom en met sy hande na sy bebloede bors gegryp. Hy het teruggeloop tot voor die bank. “Ek dink hy het toe besef hy is gesteek.”

Emil se steekwond was net bo sy sleutelbeen. Op videomateriaal lyk dit volgens Sara asof hy nie asem kry voordat hy inmekaarsak nie. Caltex se personeel het onmiddellik ’n ambulans ontbied en by Emil bly sit, “sodat hy nie alleen moet wees nie”.

Emil het hom egter onderweg na die hospitaal doodgebloei.

“Hy het net sowat nege minute nog gelewe,” sê Sara, wat eers die volgende oggend van sy dood uitgevind het.

Twee onbekende mans het sy sak op die sypaadjie opgetel en vir die paramedici kom gee. Net Emil se selfoon is geroof. Familie het ’n oproep na sy nommer gemaak, maar dit het aanvanklik nie gelui nie. Die Maandag ná die voorval het dit weer gelui. Dit is egter doodgedruk.

Met sy laaste asem het Emil gesê hy moet sy sussie en sy beste vriend, Devon Smit, in die hande kry.

Die twee sibbe was baie na aan mekaar, want sedert hul ma se dood, toe Emil twee en Sara 11 jaar oud was, het sy hom grootgemaak.

“Ons het ’n nuwe begin op Vredenburg kom maak. Emil was ’n baie goeie laaitie. Hy het nie met mense moeilikheid gesoek nie.”

Sy sal veral sy goedhartigheid onthou. “Hy sou eers ander help voordat hy aan homself gedink het, veral die mense vir wie hy lief was.”

Sara het nog altyd Vredenburg se strate as “veilig” beskou en stap gereeld met haar sesjarige seun, Raiden, om bank of winkel toe te gaan. “Om te weet dat dit nou so onveilig is dat my broer vermoor kon word . . . dit voel soos ’n droom waaruit ek nie kan wakker word nie.”

Emil se geliefdes het vroeër vandeesweek blomme by die palm waar daar nog tekens van bloed was, neergesit. Hy was glo versot op Raiden wat ook op ’n haar na hom lyk.

Sommige Weskussers sal Emil as kelner onthou. Hy het al by verskeie restaurante in die Weskus en tans vir ’n gasinstalleringsmaatskappy gewerk. Die tatoeërwerk doen hy al vyf jaar in sy vrye tyd.

In ’n afgryslike wending is ’n foto van Emil se lyk op sosiale media rondgestuur en dit is ook op ’n groep waaraan Sara behoort, gedeel.

“Die foto moes deur iemand by die hospitaal geneem gewees het,” sê sy.

Die sakelui en gemeenskap van Vredenburg het gister ’n versoekskrif aan die hoofstaatsaanklaer, Jacques van Zyl, by die landdroshof op die dorp oorhandig om te verhoed dat Snyders borgtog toegestaan word.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het die polisie Snyders 15 minute ná die voorval aangekeer. Die selfoon was nie meer in sy besit nie. Hy is in hegtenis geneem en het op 2 Januarie in die landdroshof verskyn. Met sy tweede verskyning gister (Woensdag 10 Januarie) is die saak tot 17 Januarie uitgestel. Van Zyl het bevestig dat die staat borgtog gaan teenstaan.

Sara wag nog vir Emil se as sodat sy dit by Langebaan kan gaan strooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025