Vrouedagvieringe is Saterdag (10 Augustus) by Hoedjiesbaai Hotel in Saldanha gehou.
Die spesiale gas was die aktrise Jill Levenberg van die sepie Suidooster. Vrouemishandeling, geslagsgebaseerde geweld, vroue wat deur siekte gaan en soveel meer is met die sowat 130 mense wat die geleentheid bygewoon het, bespreek.
Levenberg het meer gedeel oor hoe sy gekom het tot waar sy vandag in haar lewe is en die struikelblokke wat sy moes oorkom.
Die profetes Gunaida Samuels was ook aan die woord en het die gaste bemoedig met ’n sterk getuienis asook gebed.
Queena Bartlett het gepraat oor die krag van vroue en oor haar reis as kankeroorlewende.
Volgens Dolfie de Bruin, bestuurder van die hotel, was die dag ’n reusesukses. “Ek persoonlik weet nie hoe gaan ek ’n vrouegeleentheid ná dié een kan oortref nie. Dit was nie net ongelooflik nie, maar kragtig. Al drie vroue se getuienis het die gaste en myself in snot en trane gehad. Gaste het heerlike versnaperings en koek geniet en hulle was in die teenwoordigheid van ons almagtige God wat hierdie geleentheid so spesiaal gemaak het.”
Hy het die borge Bekker-plaasprodukte in Vredenburg, Bidfood, Flexi Foods en Weskus Mark bedank.
De Bruin het ook Esmarelda Mckay en Magdel Spanellis asook sy personeel – Chester du Toit, Deon O Kennedy, Grant Pienaar, Chriswill Engelbrecht, Courtney Snyders, Annelie van Heerden en al die ander personeel – vir hul harde werk bedank. Hulle het tot amper 04:00 gebak en kos gemaak, wat bygedra het tot die sukses van die dag.