Dokter sterf in botsing reg van voor

Die Weskus word gelos met so ’n bietjie minder pizzazz ná die afsterwe van die charismatiese dr. Louis Muller (40), ’n algemene praktisyn in Vredenburg, wat op Woensdag 11 September dood is.


Die Weskus word gelos met so ’n bietjie minder pizzazz ná die afsterwe van die charismatiese dr. Louis Muller (40), ’n algemene praktisyn in Vredenburg, wat op Woensdag 11 September dood is.

Muller is omstreeks 07:35 op slag dood toe die Suzuki-motor waarin hy van Langebaan na Vredenburg onderweg was, reg van voor teen ’n vragmotor gebots het.

Die vragmotor was op pad na Kaapstad toe die ongeluk op die Weskuspad (R27) tussen Vlakvarkgat en die Engen-eenstop gebeur het.

Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue het bevestig Muller was reeds dood toe hulle eerste op die ongelukstoneel afgekom het.

Die vragmotorbestuurder en sy twee passasiers het ligte beserings opgedoen.

Die maatskappy waarvoor hulle werk, het hulle self dokter toe geneem.

Die Weskuspad was vir ’n hele paar uur gesluit sodat reddingswerkers die dokter uit die voertuig kon lossny en die wrakstukke wat oor die pad gesaai gelê het, kon opruim.

Muller, ’n oud-hoofseun van die Hoërskool Vredenburg, het in 2012 as dokter begin praktiseer nadat hy aan die Universiteit Stellenbosch medies gestudeer en in 2008 gegradueer het.

Dr Louis Muller het ook destyds ’n mediese rubriek in Weslander hanteer, getiteld “Vra die dokter”.

Talentvol

Met die opening van sy eie praktyk het die spreekkamers se noukeurige binneversiering die oog gevang en die standaard geword waaraan talle spreekkamers gemeet is. Daar was iets stylvols aan dié praktyk wat met ’n verslankingskliniek en ander skoonheidsdienste gekombineer is – ’n eerste vir die Weskus.

Karin du Preez van Langebaan, ’n goeie vriendin van Muller, het gesê sy het nie woorde om haar hartseer te beskryf nie. “Die nuus het my heeltemal uit my skoene geslaan. Louis was so ’n goeie mens met ’n hart van goud – altyd daar vir almal.”

Volgens sy musiekonderwyseres op skool, Erna du Plessis, was hy ’n briljante musiekleerder.

Hy het graag klavier gespeel vir die mense na aan hom.

Muller het die nuus in 2020 gehaal toe hy by die dood omgedraai het as gevolg van ’n koronavirus wat hy opgedoen het.

Hy het drie dae lank bewusteloos in die waakeenheid gelê.

Muller het ook ’n tyd lank ’n rubriek met mediese raad, getiteld “Vra die dokter”, vir Weslander geskryf.

Muller se praktykpersoneel in Voortrekkerstraat het gister – op die dag van sy dood – op hul Facebook-blad aangedui dat die praktyk gesluit gaan wees tot verdere kennisgewing.

Teen druktyd was pogings om met Muller se naasbestaandes in verbinding te tree, nog onsuksesvol.

You need to be Logged In to leave a comment.