Vorentoe! Spelers van Saldanha het Saterdag vir 80 minute vorentoe gebeur in die span se halfeindstryd teen Hawston in die Boland-grootuitdaagbeker-reeks in Wellington. Die verdedigende kampioen kom Saterdag teen Bella Vista van Ceres in die eindronde te staan. Foto: Mark Ward


Saldanha se rugbyspan kom Saterdag in die Boland-stadion teen Bella Vista van Ceres in die eindstryd om die Bolandse Grootuitdaagbeker te staan.

Dit volg nadat Saldanha, die verdedigende kampioen, Hawston in die halfeindstryd in die Boland-stadion in Wellington 26-20 uitoorlê het, terwyl Bella Vista hard moes spook om Wesbank te klop.

Saldanha het die wedstryd teen Hawston gewen danksy ’n drie deur Riaan Louw laat in die tweede helfte nadat die spanne met rustyd nog 13 elk gelykop was.

Maar dit was die “Oh Men of Bella”-klublied wat van Wellington tot in Ceres uit volle bors gesing is toe die helde van die Witzenberg 32-26 oor Wesbank geseëvier het.

Mornay Kurtz, die Saldanha-afrigter, was vol lof vir sy span se vertoning en belowe dat sy span vir die eindstryd teen Bella Vista op volle sterkte sal wees.

“Dit was moeilik teen Hawston, maar ons het geweet hulle sou alles in die stryd werp om ons te klop. Ons het egter by die gameplan gehou en sukses behaal,” het Kurtz gesê.

Die Saldanhabaaiers sal egter gewis ’n teenvoeter vir die Bella-skrum, wat met hul rolmaalbewegings beïndruk het, moet bewerkstellig. Ongelukkig weerspieël Bella Vista se oorheersing op dié gebied nie op die telbord nie.

Dit was egter die briljantheid van die senter Durin Nasson wat die wedstryd in sy span se guns beklink het.

Bella Vista het by tye met sy rolmaalbewegings ver veld gewen, maar die hanteerfoute op kritieke oomblikke het hom gekortwiek.

Soos die span se afrigter, Jonathan Fredericks, ná die wedstryd gesê het: “Ek wil dit herhaal. Aan die begin van die seisoen het ek gesê ons gaan in die eindstryd speel, en hier is ons vandag.

“Vergeet die verbroude kanse in die wedstryd. Ons berei voor vir ’n nuwe uitdaging.”

Intussen kan Hawston net homself blameer vir sy nederlaag, veral nadat Christo Arendse (slot) in die tweede helfte met ’n rooikaart afgestuur is. Dit was nadat die skrumskakel, Cameron Plaatjies, vroeër in die wedstryd ’n geelkaart gekry het. Branden Hunter, Hawston se kaptein, het agterna gesê: “Geluk aan Saldanha en voorspoed vir die eindstryd. Ons sal volgende seisoen weer hier wees.” – Mark Ward

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025