Ses jaar ná haar diagnose is Vigeniëa Payne amptelik kankervry. Dié plaaslike musikant het hierdie goeie nuus op Vrydag 26 Januarie ontvang.
Om die bevestiging te kry, was soos musiek in Payne se ore. “Ek is baie dankbaar en gee die Here al die eer. Maar die dokters het my ook herinner dat net so vinnig soos kanker verdwyn, dit net so vinnig weer die kop kan uitsteek.”
Hierdie woorde kry Payne egter nie onder nie, want soos sy sê – al haar vertroue lê in die Here, en Hy het haar nog nooit in die steek gelaat nie.
Borskanker is vroeër by Payne gediagnoseer. Ná talle toetse en ondersoeke is uiteindelik ná ’n mammogram bevestig dat dit wel borskanker was. Payne vertel sy het ’n voorgevoel gehad dat dit kanker moes wees, want “ná soveel toetse wat anders kon dit wees”?
“Dit is eintlik ongelooflik hoe kalm ek was; as jy die groot ‘K’ hoor, is jy geskok en vra jouself, hoe kan dit met my gebeur? Hoekom ek? Maar ek het ook in my agterkop onthou dat van my familie aan my ma se kant – my tannies – almal deurtrek was met kanker.”
Payne vertel destyds toe mense uitgevind het dat hulle kanker het, het hulle bloot uit die gemeenskap gebly. “Dit was amper soos ’n vloek; dit was ’n skande as iemand daarvan hoor. My dokter het gesê daai dae is verby. Sodra jy voel daar is iets fout met jou, moet jy nie uitstel nie en onmiddellik dokter toe gaan. Dis hoekom ek dadelik opgetree het.”
Payne is ook dankbaar vir al die gebede wat vir haar uitgegaan het, hoewel min mense van haar diagnose geweet het. “Dit was nie maklik of lekker om daaroor te praat nie. En ek wou ook nie hê mense moes my jammer kry nie. Die reis was nie maklik nie.”
Die chemo-pil wat Payne moes neem, het sy tol op haar liggaam geëis. Moegheid, verbrokkelde naels en bene en ’n swak immuunstelsel was net ’n paar simptome waarmee sy moes sukkel. “Baie van my vriendinne is al oorlede weens borskanker en ek dink baie kere aan hulle en dan ook hoe genadig die Here vir my was sodat ek daar kon uitkom.”
Payne is ’n voorbeeld van uithouvermoë, hoop en geloof.
’n Tragedie het haar in 2017 getref toe sy byna haar been weens ’n skaars bloedsiekte verloor het. Sy het wel haar been behou, maar haar toon is afgesit.
Ten spyte van al hierdie struikelblokke wat na haar kant toe gegooi is, het Payne steeds opgestaan, by vertonings opgetree en dit met ’n glimlag daarby gedoen. “Ek het deurgedruk. Ek vertrou op die Here. Hy het my deur baie gehelp en dinge wat Hy nie vir my gegee het nie, het Hy ’n ander deur oopgemaak, en meer as een.”