Plaaslike atlete van die Weskus het ook vanjaar aan die 2024-Comrades-marathon deelgeneem. Dié marathon is weer deur duisende mense bygewoon.
Die jaarlikse groot geleentheid het in Durban begin, waar atlete die afgelope Sondag (9 Junie) weggespring het.
Plaaslike atlete van die Weskus het ook deelgeneem en vertel dit was ’n wonderlike ervaring.
Natasha Jantjies van die Langebaan-atletiekklub het vanjaar aan haar heel eerste Comrades deelgeneem en sê as dit die Here se wil is, sal sy definitief volgende jaar ook deelneem. Jantjies sê toe sy die eindstreep haal, was die oomblik so groot dat sy huilend ingekom het. “Die mense langs die pad moedig jou aan. Dit was wonderlik; ek het gestop en gedans en ook nuwe mense ontmoet. Dit was ’n belewenis wat ek dink elke mens moet deurmaak.”
Wilhelm Herrings het sy 10de Comrades-marathon voltooi en is trots daarop dat hy sy groen nommer ontvang het. “My herstel was baie vinnig. Geen melksuur en inflammasie in my beenspiere nie. Ek sien uit na die volgende 10 jaar,” vertel Herrings. Dié atleet is vyf wedlope weg van sy permanente blou nommer vir die Twee Oseane-marathon.
Saam-saam
Drie vriendinne – Amanda Scherman, Natashia Kotzé en Annelize van Zyl; al drie van Vredenburg – het die Comrades saam aangedurf. Volgens Scherman het die drie hul heel eerste marathon, die Weskus-marathon, in 2018 gehardloop. In 2019 het hulle ook vir die 50ste Twee Oseane-marathon ingeskryf.
“Die saam oefen, die lang tye op die pad en baie gesels vorm ’n baie sterk vriendskapsband en veroorsaak dat hardloop ’n reis word en nie net ’n oefening nie,” vertel Scherman. Sy sê dit verg baie meer as net die atleet om ’n Comrades te voltooi. “Dit is net deur die genade van Bo dat jy kan aantree; verder dra die ondersteuning en gebede van jou familie, vriende, kollegas en gemeenskap jou gewoonlik deur.”
Johnnie Siljeur, ook van die Langebaan-atletiekklub, sê dit was ’n voorreg om weer te kon deelneem. Vanjaar was sy 13de marathon. “Die eerste helfte het ek dit ’n bietjie stadig gevat en dit was moeilik op die bene en op die kuite. Ek moes myself net dissiplineer om nie so vinnig te draf nie, maar ná die tweede helfte was dit baie lekker. Ek het in 11 uur en 15 minute klaargemaak,” sê Siljeur.
Vir baie van die atlete is dit die kameraadskap en die ontmoeting van nuwe mense wat die Comrades nog spesiaal maak.
Siljeur moedig ander aan om deel te neem omdat dit jou geestelik en emosioneel sterk maak. “Jy bring ook baie tyd met jou gedagtes deur en natuurlik tyd met jouself. Wanneer jy klaar is met die Comrades, maak dit van jou ’n beter mens.”
Scherman glo ook dat die Comrades mense bymekaar bring, ongeag hul agtergronde, beroepe en ouderdomme.