Vir die hoeveelste keer is ’n goedgelowige mens deur ’n swendelaar ingedoen, ten spyte van die polisie en Weslander se gereelde waarskuwings om nie te val vir “beleggings” of geadverteerde produkte wat te goed lyk om waar te wees nie.
In Malmesbury het ’n vyftigjarige vrou met ’n man wat hom as ’n finansiële kenner voorgedoen het onderhandel en besluit om haar geld by hom te “belê”.
Eers nadat sy R3 000 oorbetaal het, het sy besef dat sy gekul is, sê kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder.
Helfrich druk dit weer eens op die publiek se hart om deeglik navorsing te doen alvorens hulle geld by ’n onbekende persoon of nuwe instelling belê.
Mense moet onder meer vir die “finansiële instelling” se bewys van registrasie by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) vra.
As ’n sodanige adviseur in terme wat jy nie verstaan nie bo-oor jou kop praat, draai om en loop weg of druk die foon dood.
Die goue reël bly: As dit te goed is om waar te wees, dan is dit ’n skelmstreek.